Sondag 13 Maart 2016

Moenie die Satan se leuens oor jou glo nie – deel 2


Verlede week het ek geskryf oor die feit dat ons baie keer gevange gehou word deur die leuens wat ons oor onsself glo en ons beroof van ʼn lewe van oorvloed. Leuens wat dikwels deur ʼn fyn beplande strategie van die Satan in ons onderbewuste vasskopplek gevind het en ons keer om te kan leef.

Maar vandag wil ek bietjie ratte verwissel en ek mag dalk op tone trap, maar dit is ook reg so, want ek dink die tyd is hier dat daar bevryding kom in die kerk – die een plek op aarde waar baie mense nog vasgevang is in slawerny. Miskien is dit die missie wat God op my hart lê in hierdie tyd en omstandighede. En ons weet dat enige persoon wat die status quo in die gemaksones van mense kom aanvat, gewoonlik nie baie gewild is nie.

Dier geskiedenis is vol voorbeelde, ook hier op eie bodem. Ons grootste voorbeeld is Jesus self, vir sy radikale paradigma skuiwe is Hy immers aan ʼn kruishout vasgespyker.

Vandag wil ek stilstaan by die grootste leuen wat mense in die kerk in slawerny gevange hou. En sommer op dié punt, met my fyn waarneming oor baie jare, gesprekke en betrokkenheid by baie mense en navorsing, is my konklusie dat hierdie juis die grootste rede is dat ons kerke leegloop. Nie ons gebrek aan goeie bands of dogma of een van die drie duisend ander redes wat ons so dikwels wil voorhou nie. Maar ek hardloop myself vooruit.

Ek praat van die groot G – godsdiens.

ʼn Fyn beplande strategie van die Satan self om mense weg te hou van God af.

Nee, ek praat nie van godsdiens in die lig van ander godsdienste, Hindoes of Islam of Boeddhisme of een van die ander 4200 godsdienste en spiritualismes in die wêreld nie. Ook nie oor semi-Christelike bewegings soos die Jehova’s en Mormone nie. Nee, ek praat van die Christendom, die kerk. Ook nie van die ou sus, die Rooms Katolieke of haar jonger sussie die Ortodokse en ál die ander in dié kategorie nie. Nee ek verwys na goeie ou Protestante kerke, wat die Gereformeerdes, die Lutherane, die Baptiste, die Evangeliste, die (duisende) Pinkster kerke of moderne Charismatiese en vernuwingskerke almal insluit. Dalk deesdae nog in ʼn groter mate die laasgenoemde twee, weereens met duisende versplinterings.

Nou weet ek sommige broers sluk in hulle spoeg. En jy is reg. Ek wil jou skok. Ek wil hê jy moet gaan dink. Want die kerk het ʼn karikatuur geword van die “beweging” wat Jesus Christus met 12 apostels begin het.

Die van julle wat my volg sal weet dat een van my fondasie tekste Johannes 10 en spesifiek vers 10 is: “Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.”

Die probleem met moderne Bybellees deesdae, en aangevuur deur populistiese predikers sonder enige goeie, legitieme teologiese opleiding, is dat versies soos lekkergoed by ʼn kinderpartytjie rondgegooi word. Soms gee dit wel ʼn waarheid weer wat ʼn persoon in ʼn bepaalde krisis kan bemoedig of versterk. Maar die probleem is dat mense dikwels vasklou aan “hul broodjie vir die dag”, en dan teleurgestel word, want God doen dan nie soos belowe nie. Dit terwyl die vers totaal uit verband geruk word en verdraai word om die spreker (let wel, ek kies die woord in teenstelling met prediker hier), sy punt in sy tema wil bewys – nie dat ek iets teen tematiese prediking uit beginsel het nie, maar gebruik dan net die Bybel met verantwoordelikheid asseblief.

Een van dié problematiese verse uit konteks, is Johannes 10:10. Want inderdaad kom som Jesus sy hele rede vir sy koms as God geïnkarneer hier in die stofstrate van die aarde met dié een sin op: “Ek het gekom sodat julle lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Zoë lewe.

Maar toe kom wys vriend Danie van der Merwe (dertigjarelange vriend en opgeleide pastoor en teoloog) my op hierdie waarheid.

Want die probleem lê nie by die feit dat ons vashou aan Jesus se belofte van ʼn Zoë lewe nie – hoewel ons verstaan van dié woord as materialistiese Westerlinge dalk heelwat kan verskil van wat Jesus werklik bedoel het, wat Sy betekenis van die woord was – maar by die eerste deel van die vers.

Jesus sê hier: “Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.”

Nou enige goeie gelowige mens sal onmiddellik die dief met die duiwel interpreteer. Dit is immers wat ons vir jare gedoen het. Dalk nog ʼn ietsie anders hier inlees, maar ons vergeet dan die konteks, nie net van hierdie hoofstuk nie, maar van God se woord pad met die volk Israel vir die voorafgaande 4000 jaar.

As ons ʼn hoofstuk terug gaan, praat Jesus met die Fariseërs en dan stamp hulle kop. Hoekom? Want Jesus het ʼn blinde man op die Sabbat genees. In die konteks van die Fariseërs se verstaan van die wet, was dit ʼn gruwelike oortreding van die wet. So, hierdie man, Jesus, wat Homself kom voorhou as ʼn profeet, as ʼn man van God, doen eintlik die ondenkbare, Hy breek die wet van God gruwelik.

Klink dit nie so bekend in die moderne kerk van vandag nie? Hoe kan jy ʼn geroepene of ʼn Christen wees, WANT, ons aanbid nie so nie? Jy steek nie jou hande in die lug op nie. Jy lees nie meer die wet as deel van die liturgie nie. Jy dra nie ʼn das en baadjie nie.

Jy praat nie in tale nie. Jy kan nie so met die pastoor praat nie. Die dominee kan nie met ʼn kort broek loop nie. Ons sing eers drie lofprysingsliedjies en dan sing ons drie aanbiddingsliedjies – dit is hoe ons dit doen. Dit is ONS wet. ONS kerkorde sê jy mag nie twee kilometer buite jou gemeente grense sonder die toestemming van die buurkerk se kerkraad ʼn omie wat op sy sterwensbed lê, besoek nie.

Ag ek probeer maar ʼn paar simpel voorbeelde noem. Ek hoop jy hoor wat ek sê.

Kom ek draai dit sommer nog bietjie stywer en gee sommer ʼn paar super geestelikes. Heiligmaking. ʼn Lang lys sondes wat ons voorhou vir mense van hoe hulle mag lewe, eet en aantrek, byvoorbeeld, seks, tatoes, wyn, hoe ons, ons tyd benut. O, en dan daai gunsteling super geestelike goed wat sommiges mos laat uitstaan met goed soos bevryding, Joodse name, Pasga en die vier van ander feeste en helaas die Sabbat wat onderhou moet word en die alewige beheptheid met die duiwel homself.  

En laat ek dit maar noem. Die nuwe verdelende faktor in die kerk. Nee nie meer die vrou in die amp nie, dank Vader (hoewel ek lees daar is wragtig nog steeds mense wat hulself daarmee besig hou), of gesamentlike aanbidding oor rasgrense heen, of dromme in die kerk nie. Ek praat van die “Gay kwessie”. Maar ek gaan nou niks daaroor sê nie, hoewel ek dink jy sal later sien wat ek wel graag sal wil sê.

Ag en dan praat ons nie eers oor die miljuisende dogmatiese kwessies wat die kerke nie net verdeel nie, maar wat ons slaafs navolg, mense in slawerny gevange hou en veroordeel.

Terug na Johannes 9 en 10. Jesus doen die ondenkbare en genees ʼn blinde man op die Sabbat (O ekskuus, die Shabbat). Die Fariseërs vat Hom aan, maar Jesus bly nie stil vir die godsdienstige gespuis nie, al sou dit beteken dat hulle Hom later deur die Romeine laat kruisig. Hy begin praat oor hul geestelike blindheid.

En hiermee gaan Jesus terug na die Ou Testament, want hulle wat die volk moet lei, is die blinde herders wat God se volk vernietig. Onmiddellik vat Jesus die tema van herders aan. In die konteks van Israel het hulle die analogie tussen die geestelike leier en die herder verstaan (Vergelyk Sagaria 11, Jesaja 40, Jeremia 31 en Esegiël 34).

Jesus kom sê vir die Fariseërs, julle lei nie die volk nie, julle mislei die volk. Julle, met ál julle godsdiens en wette is soos die dief, wat inkom om te steel en te slag en te vernietig.

Wat doen godsdiens? Dit kom tap die lewe uit jou uit. Dit kom vernietig jou. Julle Fariseërs kom bind My volk, My skape, My kudde vas met kettings van slawerny. Julle kom steel van hulle die lewe met julle misleiding en ál julle godsdienstige reëls, regulasies, wette, voorkeure, aanhangsels, geestelike verpligtinge, vooropgestelde vereistes en spieëlbeelde van hoe jy moet wees, dink, lyk, optree en praat voordat jy vir “ons godsdiens, ons kerk en ons god” aanvaarbaar kan wees.

MAAR, sê Jesus die Christus, EK IS, dus God self, wat die goeie herder is. En wat ek kom doen is om lewe te gee. ʼn Lewe van vryheid en oorvloed omdat jy IN My daardie lewe kry. In verhouding met God, die Vader, nie deur wat jy doen of nie doen nie, maar deur wat Ek vir jou gedoen het aan die Kruis en in die opstanding.

Elders sê Jesus in Matteus dat die las van godsdiens, met ander woorde al ons mensgemaakte pogings om God (omdat dit is wat ons geleer word om te doen) tevrede te stel, soos ʼn swaar juk op die mense lê. Jesus sê Sy las is lig. Want Hy kom vat godsdiens, mensgemaakte idees en wette, uit die prentjie weg (Matteus 11:29).

Dalk skud ek jou paradigma. Ek hoop so.

Hoekom raak ons so maklik vasgevang in ons eie mensgemaakte versinnebeelding van wat ons dink dit vra om God te dien (ek wil amper nie sê om Jesus te volg nie, maar juis hier ook, het ons so baie reëls en vereistes en idees wat dit behels om Jesus te volg)?

In die eerste plek is dit omdat vryheid gevaarlik is. Min mense kan vryheid hanteer – kyk maar na die Matrieks aan die einde van die jaar. God het egter reeds in die skepping besluit om die mens vryheid te gee, ʼn keuse wat die mens redelik vinnig opgemors het. Dus buite Jesus om is ware vryheid nie moontlik nie.

Tweedens soek ons mense mos riglyne. Die volk bou ʼn goue kalf, want hy moet God sien. Ons bou liturgiese ruimtes met sekere style en vorme om ons God te probeer sien.

Derdens is dit hoe die massas beheer word. Die kerk moet beheer uitoefen. Die herder moet sy skape op die smal pad hou. En dan maak ons, ons eie reëls om die pad uit te stip – natuurlik met behulp van die Bybel.

Nou hoor ek dadelik hoe sommige mense opspring en sê: “Maar in hoofstuk 15 sê Jesus julle sal in My bly as julle My opdragte gehoorsaam.” En dan maak hulle weer ʼn hele teologie oor gehoorsaamheid aan Sy opdragte, met ander woorde ALLES wat ons sogenaamd volgens hulle moet nakom.

Kom ons vat ʼn stappie terug na die konteks van hierdie hoofstuk.

Wat is die gehoorsaamheid waarvan Jesus hier praat?

Net een woord, LIEFDE. Klink dit soos iets wat Jesus telkens gesê het?

In hoofstuk 17 kom bid Jesus daai aangrypende gebed net voor Hy oorgelewer word, naamlik dat die wêreld nie net sal weet dat ons Sy kinders is deur ons liefde vir mekaar nie, maar dat die wêreld God só sal sien.

Godsdiens kom pers liefde uit. Dit steel en verwoes en vernietig. Dit veroordeel, beoordeel en skryf af. Dit sluit uit as jy nie inpas by die vereistes nie, hetsy, taal, gewoontes, klere of dogma. Dit wil mense reg slaan deur die uiterlike vertoon en vereistes.

Is dit nie juis die rede hoekom die kerk leegloop nie? Is dit nie juis omdat presies die teenoorgestelde van wat Jesus kom demonstreer en vestig het as Sy kerk, gebeur nie? Is dit nie omdat God nie sigbaar is nie?

Jesus kom verander harte. Hy kom demonstreer liefde, deur Sy lewe af te lê vir ons.

Dít is lewe in oorvloed. Zoë lewe. ʼn Lewe van ware liefde in gesinne, families, die kerk en ook vir die wêreld.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking