In
my byna ʼn halfeeu op hierdie klein blou planeet wat êrens in die grootheid van
die heelal rustig en voorspelbaar in sy wentelbaan om sy son wentel, het ek
geleer dat die lewe op hierdie aarde bitter min die voorspelbaarheid,
rustigheid en vastigheid van sy moeder weerspieël.
Nié
dat dit is hoe God dit geskep het nie. In Sy skeppingswerk “was alles goed.”
Volmaak. En die lewe wat vir die mens, Adam, bestem was, was goed, voorspelbaar
en rustig.
Maar
omdat God een gemaak het as Sy verteenwoordiger, as Sy beeld, het die mens ʼn
keuse gekry. En soos wat hy in ál die eeue en millennia daarna bewys het, maak
hy dikwels die verkeerde keuses. Soveel so dat die lewe aan die binnekant van
hierdie planeet, onder sy atmosfeerlaag, alles behalwe glad verloop.
Ons
sien dit in die natuur, ons sien dit in ouderdom, ons sien dit in gebrokenheid,
siekte, stukkende verhoudings en helaas, ons gebroke verhouding met God.
Maar
genadiglik los God ons nie daar nie. In Sy genade kom vat Hy ʼn volk, maar ál Sy
pogings blyk dit dat kinders sal kinders bly. Elke reël, elke riglyn, elke
liefdesdaad, leiding en vertroosting help weliswaar niks om die mens weer in
ere met God te herstel totdat Hy ten einde laaste van Sy troon afklim en in die
persoon van Jesus, die Christus of Messias, kom mens word nie.
Dit
kos Hom, God self, om die dood wat die mens gekies het in die sonde, deur te
gaan om weer lewe op hierdie aarde, en hierna, te bring. En daarmee verander
God die geskiedenis van hierdie planeet vir ewig.
Nou
is daar lewe beskikbaar, maar dit kos dood. Dood aan hierdie liggaam op hierdie
aarde om die nuwe, verheerlikte liggaam te kan aantrek in ewige volmaaktheid.
Dood in jou eie self, jou ego, of eie ek, om die lewe wat in God is te kan
ontdek en geniet. ʼn Zoë lewe. ʼn Lewe van oorvloed IN Christus. Nié werke, goeie
dade, godsdienstige of ander spirituele ritueel, kan jou lewe gee nie. Alleen ʼn
keuse om te sterf en wedergebore te raak.
Maar,
selfs al het ons zoë lewe IN Christus, is ons steeds deel van en blootgestel
aan die storms en dood wat op hierdie aarde woed.
En
so gebeur dit soms dat ons deur só ʼn storm, of dikwels storms, in ons lewens
getref word. Soms in so ʼn mate dat dit voel of daar geen hoop, geen uitkoms en
weliswaar geen lewe meer oor is in onsself nie.
Dit
kan kom in die vorm van siekte of ander liggaamlike probleme. Dit kan kom dalk in
die vorm van psigiese ongesteldheid. Soms tref finansiële verlies of
moeilikheid jou. Dalk sit jy sommer net doodeenvoudig sonder geld. Dit kom dalk
in die vorm van ʼn verhoudings wat skeefloop of nie wil uitwerk nie. Of dalk mense
wat jou teleurstel of skade aandoen. Dalk het jy uit jou pad gegaan om iemand
te help en al wat na jou kant toe kom, is moeilikheid en verlies.
Ag
die lys kan bladsye lank wees, maar ek is seker jy weet en ervaar dalk waarvan
ek praat.
Só
gaan ekself al ʼn geruime tyd deur baie moeilike tye met moeilike besluite wat
geneem moet word. Besluite wat my zoë kwaliteit lewe die volgende half- millennium
op hierdie blou planeet drasties kan bepaal.
En só
stap ek een oggend uit in die tuin hier by my tydelike woning in die
Gemora-provinsie. Ek worstel met myself,
my gedagtes, my emosies en met God.
Maar
God praat egter met my in die oggendstilte in die duidelike fluisterstem van die
Heilige Gees.
So
paar weke gelede is ons in dié deel van die ou dorpie hier getref deur ʼn verwoestende
haelstorm. Later vind ek uit dit was toe nie een haelstorm nie, maar twee wat
mekaar toe nou hier bo-oor ons gekruis het. Miljoene rande se skade is in ʼn
kwessie van 20 minute aangeteken.
Hoewel
ons baie dankbaar is dat ons, in vergelyking met baie mense rondom ons,
relatief min skade gely het, was daar van ons eie tuin weinig oor. Alles is
afgeslaan. Sommige plante tot teen die grond. Blare, blomme en takke is
weggeslaan.
In
die week vóór die haelstorm het ek nog in die tuin geloop en gedink as die
droogte nou voortduur, gaan daar nie veel oor wees ná die winter nie. Dit was
so droog dat alles vaal was, besig om te sterf en kaal.
Ná
die haelstorm die Saterdagmiddag hier in die begin van Januarie, was daar
letterlik niks van die tuin oor nie.
Só
stap ek die oggend vroeg in die tuin en praat met God oor die dood wat in my
gemoed wil kom nes skrop. En die Heilige Gees fluister hoorbaar in my oor: “Kyk
om jou rond. Wat sien jy?”
Tot
my verbasing ontdek ek LEWE. Ja, waar daar dood en verwoesting was, is daar nou
lewe.
ʼn
Groen lushof omring my. Geure vul die lug en maak hul tuis in my reuksintuig. My
oog verlustig hom in blomme en bloeisels wat kop uitgesteek het.
En ʼn
verwondering tref my toe ek God se fluisterstem in die oggendstilte hoor: ”By
My is daar ALTYD nuwe lewe.”
Ja, dit
maak nie saak hoe droog jou omstandighede mag lyk, sonder enige hoop of uitkoms
nie. Dit maak nie saak of twee of selfs meer storms al jou grond onder jou kom
wegspoel het. Of mense die laaste spruitjie lewe kom uitbliksem het nie. Dit maak
nie saak of dit, as jy na die fisieke omstandighede om jou kyk, die sogenaamde
realiteit, jy in totale uitsiglose moedeloosheid kom vasval het nie.
Selfs
in hierdie sondige aardse sisteem, kom gee God ALTYD, totaal uit Sy liefde en
genade, weer lewe. Die natuur kom herstel asof daar niks fout was nie.
Inteendeel, dit lyk selfs beter soos wat nuwe lewe uitspruit.
En
so laat God my besef, daar is ALTYD weer lewe by Hom.
Ek
hou die afgelope paar weke aan hierdie boodskap vas. Soms voel dit of donkerte
en gate van hopeloosheid my ook wil oorweldig. In die sogenaamde realiteit,
sien ek nie hoop, toekoms of lewe nie. Maar God sê Hy is nié die realiteit nie.
Hy is nie die droë omstandighede nie. Hy is nie die voos haelgeslaande tuin
nie. Hy is God. Hy is hier. Hy is in die toekoms.
En
dit laat my asemskep. Moed kry om net weer oor te gee.
Daar
is nie ʼn sewe stappe na nuwe lewe IN Christus nie. Daar is nie ʼn formule nie.
Die lewe gebeur vanself. Op een of ander misterieuse wyse kom lewe terug in die
natuur – afhanklik van God se lewe.
Ons
kan ook, net soos die natuur, oorgee en toelaat dat God weer lewe laat uitspruit.
HOE weet ek nie, maar DAT. Dit is ʼn feit wat God in SY liefde en genade IN
Christus vir ons kom werklik maak.
In
Jeremia 29:11 sê God aan Sy volk, midde in die ballingskap: “Ek weet wat Ek vir
julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed
nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.” En wat gebeur, 70 jaar
later, byna 2 geslagte later, trek die volk terug na hul eie land.
God
gee lewe, ál lyk alles op daardie oomblik na totale hopeloosheid en
onmoontlikheid.
Gee
oor. Vers 12 tot 14 van dié hoofstuk sê God: “Julle sal na My roep en bid, en
Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind. Julle
sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat
terugkeer...”
God
laat Homself vind IN Christus. Dalk is die uitkoms nie op daai oomblik sigbaar
nie, maar na vier tot ses weke begin die tuin die lewe wys wat reeds toe werksaam
geword het. So het die volk nog 70 jaar in ballingskap gesit, maar God het die
werk in hulle gedoen wat nodig was.
God
is besig in en met jou en jou omstandighede en toekoms, glo Hom, soek Hom en
vertrou Hom.
Dit
is my enigste hoop en troos in die donkerste, slegste en doodste van tye – By God
is daar ALTYD nuwe lewe.