In
Matteus 7 van vers 24 af gebruik Jesus die vergelyking van om jou huis op sand
of ʼn stewige fondament te bou. Die verstandige of wyse mens bou ʼn huis op ʼn
stewige fondament. Dit is eintlik so logies dat ʼn mens amper wil sê: “Duh?”
Paulus
onderstreep hierdie feit nog verder wanneer hy in Kolossense 2:7 dit in dik
swart letters onderstreep dat ons op Christus moet bou. Die woord beteken
letterlik die stewige fondasie van ʼn hoë gebou.
In
die jaar wat ek weg is by my vorige werk het ʼn hospitaalgroep begin om ʼn nuwe
hospitaal in Kaapstad te bou, reg oorkant my vorige werkgewer. Dié is seker nou
al voltooi of byna gereed vir okkupasie, maar ek was redelik lanklaas daar
gewees.
Ek
het die proses redelik fyn dopgehou in die tyd wat ek daar was. En die interessante
waarneming vir my was hoe lank dit neem om die fondasie uit te grawe en te lê.
Ek
het dieselfde proses so drie jaar terug gesien met ʼn huis wat agter my gebou is.
Die aanvanklike werk om op te meet, die gate te grawe en te sorg dat alles gereed
is om die fondasie te gooi, en dan die eventuele proses van fondasie lê, vat
relatief lank in vergelyking met die res van die bouwerk.
Toe
ek verlede jaar in die middel van die jaar weer verby die nuwe hospitaal ry wat
in aanbou is, was ek verstom om te sien hoe hoog die gebou al staan.
Die
fondasie lê gedeelte van die bouery het maande lank geduur. Maar toe die bouers
eers met die konstruksie begin, het dit vinnig gevorder.
Dieselfde
met die huis destyds. In ʼn relatiewe kort tydjie was die dak op en selfs die
afronding binne voltooi. Baie vinniger as wat dit geneem het om die fondasie te
lê.
Dit
laat my aan ons lewens dink.
ʼn
Mens word vir jare gevorm. Dit is die proses om jou te maak wie jy is. Maar dit
is nie altyd alles goed of bevorderlik vir jou nie.
En
net so met jou geestelike lewe. Die proses van wedergeboorte is maar die begin.
Jy word gebore en gevorm. Dan begin die groeiproses. Die dissipelmaak proses.
Hierdie
proses kan soms jare neem net soos in die fisieke wêreld. Dit is ʼn
veranderingsproses van die ou dinge na die nuwe dinge. En ongelukkig, net soos
met mense se grootword in die fisieke, kan dinge in die geestelike ernstig
skeefloop.
Of
mense groei net doodeenvoudig nie. Word wedergebore, kom tot bekering, maar bly
dan soos babatjies. Klein en afhanklik van ander of die dominee, pastoor of
selherder vir hul geestelike lewe. En in die verlede was dit hoe kerk bedryf is
ook. Die dominee was my toegang tot God (gelukkig dink ek daardie waardesisteem
het darem begin verkrummel).
Baie
kinders van die Here se lewens word nooit getransformeer tot koninkrykswaardes
en koninkryksreaksies nie en daarom leef en reageer baie kinders van die Here steeds
maar soos in die ou lewe, soos die wêreld voorskryf of in ons natuurlike
menslike natuur na vore kom.
Jesus
het gebruik die vergelyking met saad wat nie opgroei en vrug dra nie (vergelyk
Matteus 13).
God
snoei egter Sy wingerd reg sodat daar vrug kan wees.
Hier
is drie maniere waarop God ons só reg snoei sodat ons, ons lewens op ʼn baie
sterk en stewige fondasie kan bou waar die gebou nie sal wankel nie, maak nie
saak hoe sterk die wind of storm is nie.
In
die eerste plek besef die meeste westerlinge nie die belangrikheid van ons
geesdimensie nie. Ons is so geskoei en gevorm deur die Modernisme (in ons
vormingsjare), dat, al leef ons nou in ʼn nuwe ere van die Post-modernisme met
ons nuwe gewaarwordinge, ons steeds nie heeltemal in voeling is met ons
geesdimensie nie. En dit is hier waar die snoeiproses begin. Ons het nodig om
reg gesnoei te word sodat ons ontslae kan raak van die ou manier van
godsdienstigheid, van rasionalisme en vorm godsdiens in plaas van
spiritualisme. Of eerder, ons verandering na die verstaan van wie ons IN Christus
is. Ons het nodig om in ons verstande so gesnoei te word dat ons besef ons
fondament lê in Christus, in ons verhouding met God, nie hoe goed onsself dinge
kan laat gebeur nie. Dit is nodig dat God ʼn bietjie van hierdie “wêreldse” gees
van die modernisme, en selfs die post-modernisme, in ons ontslae raak sodat
Koninkrykswaardes ons denke en gedrag bepaal.
In
die tweede plek is dit nodig dat ons gesnoei word dat ons kan begin groei. Om
op die fondament van Christus te bou is ʼn groeiproses. Dis ʼn proses waar ons
begin besef dat ons hele lewe is afhanklik van hierdie bevrydende waarheid en
gebeure in ons lewe. “Bekering” of “wedergeboorte” beteken nie om in ʼn nuwe
stel godsdienstige verpligtinge en (mensgemaakte) wette en gunsteling
dogmatjies vasgevang te raak nie. Nog minder beteken dit ʼn droë sinnelose lewe sonder
enige avontuur of lewe. Néé, jy kan alleen lewe as jy op fondament bou, en daai
fondament is Christus. Daar is geen ander fondament in hierdie lewe wat ons
lewens werklik vastigheid gee nie. Dus is ʼn snoeiproses nodig in ons breine en ons
emosies waarin ons kan oorgee in ons gees waar ons die Heilige Gees toelaat om
ons te rig en te lei.
Derdens
het ons snoeiwerk nodig om ontslae te raak van ons pogings om die fondament te
lê. As ek so terugkyk oor my lewe besef ek hoeveel keer ekself probeer het om
antwoorde en oplossings te kry. Dit gesê, en hierdie was ʼn jarelange worstelstryd
vir my, beteken dit nié dat ons nie beplan, nie doelwitte stel en nie oor ons
toekoms besluit nie. Inteendeel, ek is al hoe meer oortuig daarvan om dit nié
te doen nie is juis om op sand te bou. Maar dit is nie ʼn oefening wat net met
die verstand gedoen kan word nie. En beslis nie met ons emosies waar ons
dikwels reaksionêr optree en besluite neem nie. Nee dit is ʼn integrale proses
tussen verstand, wil en emosies (sielsdimensie) en die gees. Dit is waar jy op
grond van Spreuke 3 en 16:1 jou pad “oorgee” aan God. Maar oorgee is nie pasifisme
en ʼn gesindheid van “laat Gods water maar oor Gods akker loop” nie. Dit is nie
hierdie moderne lewensbeskouing van “ons kyk maar wat gebeur” nie. Hoeveel
mense leef maar net dag in en dag uit, jaar in en jaar uit sonder enige idee
waarheen hulle op pad is. Besluit nie waar en hoe hul jaar gaan eindig in alle
dimensies van hul lewe nie. Nee, om oor te gee, en dit is baie duidelik in die
hele konteks van Spreuke, is om saam met God te beplan. Om siel en gees te laat
saamwerk. Meeste mense is passief en die res is net op die sielsdimensie
gefokus. Maar ek is al hoe meer oortuig, en dis vir my óók ʼn groeiproses, dat
dit ʼn proses moet wees wat in ons gees ontspring. Waar die fondament van elke
area van jou lewe in die geesdimensie gelê moet word.
Dit
is waar God ons moet snoei, sodat ons besef dat my hele lewe is afhanklik van
Hom. Dat sukses en geluk en vrede en vreugde ontspring in my gees dimensie. Ek
kan en hoef dit nie te gaan fabriseer of in goed, het sy werk, besittings of
familie of vriende, te loop soek nie. Nee ons HET dit reeds IN Christus. Die
groeiproses is om dit te laat uitspruit. Dit kan alleen uitspruit in nuwe lewe,
takkies, blare en vrug wanneer die ou dooie goed, ou oortuigings, ou
godsdienstige idees en praktyke en ou lewensbeskouinge weggesnoei word uit ons
lewens.
Dan
begin ons soos ʼn wyse man ons lewens bou op die fondament, en daai fondament is
Christus.
Hierdie
snoeiproses, hierdie ontslae raak van die ou goed in ons lewens, godsdiens en filosofieë
uit die wêreld, dít is fondasie lê en dit vat soms tyd. Dikwels is ons so
oorhaastig om die dak op te sit en die huis binne reg te kry, dat ons vergeet
dat die fondasie eers reg gelê moet word. Stewig moet wees. Dat baie detail,
tyd en aandag in die fondasie lê gedeelte van ons bouproses moet ingaan.
En
hier is die grootste uitdaging. Jy kan dit nie sien nie! Die fondasie is nie
mooi, ge-”window shop” nie. Dit is dikwels lelik en grof en onaansienlik en
weggesteek. Maar dit is hier waar die gebou se sterkte lê.
Moet
dus nie dat mense, of die kerk of die wêreld jou manipuleer wanneer God besig
is met jou fondasie in Sy snoeiproses nie. Op die regte tyd, sal jou huis die
vrug dra waarvoor dit gebou en geplant word.
- Vir meer inligting, besoek my webblad: www.wilcoroberts.co.za