Saterdag 9 Januarie 2016 tref ʼn storm die Wes-Rand en
trek deur tot verby Hartbeespoortdam.
Behalwe een slag in Kaapstad waar ek 10 sentimeter
diep in die hael gestaan het ná ʼn haelstorm wat almal gedink het dit het in die
stad gesneeu, het ek nog nooit só iets beleef nie.
Ek was letterlik net in die huis toe begin die hael
val. Dit het soos ʼn dreuning oor die aarde aangekom. Hoewel dit seker ʼn goeie
20 minute aangehou het, het dit in ʼn kwessie van ʼn paar minute groot skade
aangerig.
Ons is net baie dankbaar dat ons nie groter skade
gehad het nie. Behalwe dat daar niks van die tuin oor is nie, was die skade
relatief min. Toe ek later uitstap, het ek ietsie verstaan van hoe ʼn boer moet
voel as hy of sy uitstap en oor ʼn weggeslaande landery moet kyk.
Maar die skade rondom was verbysterend. Die
winkelsentrum se dak wat ingeval het. Oorkant by die kerk het ʼn klein saaltjie
inmekaar gestort. Letterlik 24 uur ná die haelstorm het die hael daar nog meer
as ʼn meter dik in ʼn soliede blok ys gelê.
In die daaropvolgende donderstorm gaan die krag af vir
byna 24 uur. Wat my egter opgeval het ná die aanhoudende gelooi van sirenes
later die aand asook die storm bedaar het, was die stilte saam met die algehele
duisternis. Buite was dit pikgietswart donker. Behalwe enkele huise met
kragopwekkers, het daar nêrens ʼn enkele lig geskyn nie. En ʼn verbasende stilte
vir die stad.
Die stilte ná die storm.
Dié hele gebeure het my diep laat nadink oor die lewe.
En veral ná gister se blog, Tien punte hoe my kerkpaadjie vorentoe lyk.
Die storm het my baie aan my lewe laat dink. En die
storms wat oor ons lewenspaadjie kom.
Maar nie net die storms nie, ook daai tye van stilte.
Tye wanneer jy wonder waar God is? Wanneer jy wonder wanneer gaan jy iets hoor?
Wanneer jy wonder hoekom hierdie storm jou dwars klap en jy niks, maar niks
hoor nie.
Tye wanneer jy helaas soos Job op die ashoop van die
lewe beland. Platgeslaan, oorbluf en verbysterd. Wanneer dit nie net een krisis
is nie, maar die aanslae nie ophou nie. Wanneer die een ná die ander teen jou
aanstorm soos met springgety wanneer die golwe so vinnig op mekaar volg en teen
die pad of huis se muur breek, dat jy wonder of daar ooit verligting gaan kom.
Daai tye wanneer tot jou vriende teen jou opstaan en jou integriteit en
verhouding met God in twyfel trek soos met Job.
Hierdie storm het my egter aan Elia laat dink.
Grootste profeet van alle tye. Man van God wat onverskrokke
was in woord en daad. Elia wat nie bang was vir ʼn Jesebel wat die volk verlei
het na afgode toe nie en alles in die stryd gewerp het om van hom ontslae te
raak nie.
Elia staan op en vat 400 Baalpriesters man alleen aan
en wys aan die volk dat die Here alleen God is. Maar dán bars die storm om sy kop los.
Maar, in die midde van dit alles, neem God vir Elia na
ʼn grot en wys aan Hom dat Hy in die stilte is.
Vóór hierdie gebeure sit Elia vir ʼn jaar by die spruit
Krit omdat hy vlug vir sy lewe omdat Asaf en sy vrou Jesebel hom wil doodmaak
omdat hy hulle aanspreek oor hul afgodsdiens en die droogte in die land aankondig
weens hulle afgodediens.
In hierdie storm, bring God vir Elia na ʼn plek van
stilte. Daarna gaan bly hy by die
weduwee. Nóg stilte tyd.
Totdat die groot dag van konfrontasie aanbreek.
My punt waar ek wil kom is: Elia beleef stilte en
storm, en storm en stilte. Inmekaar geweefde kontradiksies.
Ná die gebeure op die Karmelberg word Elia na Horeb
geneem, die plek van ontmoeting met God, dít nadat hy onder die braambos gaan
sit en wens om dood te gaan. Die storm breek weer los te midde van God se grootse
vertoon van wie Hy is.
Hier op die berg word Elia in ʼn grot gesit. En God
praat met Elia.
God wys vir Hom dat Hy nie in die vertoon is nie, nie
in die skouspelagtige en vermaaklike en gewilde nie. Ook nie in die gemak en in
die kitsoplossings nie.
God is in die stilte. In die sagte gesuis, daar is
God. In die stilte, daar is God. Jy moet mooi luister. Fyn luister om Sy stem
te hoor.
Daar waar jy worstel oor die storms. Daar waar jy soms
nie verstaan hoekom God stil is te midde van die storm nie.
Vir my is dit al hoe meer ʼn besef dat God se genade en
liefde daarin na vore kom dat Hy meer geïnteresseerd is in ons karaktervorming.
In Ons verhouding met Hom, ons afhanklikheid van Hom en vertroue op Hom. Ons
groei in alle fasette van ons menswees, siel, liggaam en gees – ja God is nie in
jou godsdienstige betrokkenheid en aksies geïnteresseerd nie – Hy is in jou
lewe geïnteresseerd. Dít is verhouding.
In Stilte...nie in ʼn geskreeu, ʼn gebrul of gedonder
nie. Nier in groot vertoon en magtige werke nie.
Ek weet nie van jou nie. Of jy al in ʼn verhouding was
waar dit ʼn “screaming contest” is nie. In skaamte moet ek erken ek was daar.
Teen my karakter en persoonlikheid in. Maar ek was. En dit is nié lekker nie.
Geen mens kan aan my sê dit is hoe hy of sy sy verhoudings verkies nie. Om
heeltyd in konflik te wees, opgewerkte emosies, omgekrapte, slegte hormone wat
jou lewe oorheers. Niemand wil in konstante woede leef nie.
Ons almal soek ʼn rustige verhouding waar stilte nie ʼn
bedreiging is nie. Waar daar in stilte ʼn stille verstaan is van die ander
persoon. ʼn Aanvaarding van wie jy is. ʼn Ondersteuning in alle fasette van jou
lewe en waarmee hy besig. ʼn Stille liefdesverhouding van diepe omgee en erbarming.
Só ʼn verhouding van stilte, dít is die grootste
seëning.
So wat beteken dit alles vir ons?
Hier aan die begin van 2016 kan ons een ding weet. Die
storms gaan kom. Dit het hier fisiek in die natuurlike gebeur nog skaars nadat
die nuwe jaar begin het. Dis nie profeties nie. Dis die lewe. Daar gaan storms
kom. Dit kan ook wees dat jy in stilte sit. Dit kan wees dat die storm ná die
stilte kom of dat God doodeenvoudig ná die storm vir jou sê: ‘Wees stil en
vertrou.”
Die uitdaging is om te midde van die storm net stil te
wees en te weet, God is in beheer. My vertroue is op Hom en Hom alleen. Om nie
te skarrel nie, maar te vertrou.
Dít vra ware intieme verhouding met God. As ons nie
tye van stilte in ons lewens het te midde van hierdie malle gejaag nie, as ons
nie seker maak ons weet en ken die rots waarop ons staan nie, gaan die storms
kom en jy gaan sukkel om in stilte te vertrou. Dan gaan jou emosies oorneem.
As Jesus sê: “Soek eers die koninkryk en ál die ander
dinge sal vir jou bygevoeg word,” is dit presies wat Hy bedoel.
God fluister in stilte. Dít is waar jy Sy stem sal
hoor.
Voordat jy nie vir God in stilte leer ken het nie, want
Hy is nie in die lawaai en geskreeu en gejaag nie, sal jy moeilik in die storm
die koninkryk soek. Met ander woorde die beginsel van vertroue omdat jy God
ken. Weet wie God is.
Godsdiens kan
dit nie vir jou gee nie. Verhouding doen. En dan sal jy al die antwoorde kry,
die deurbraak, die oorwinning. Dan sal dit toegevoeg word.
Dit is in teenstelling met die wêreld waar emosies en
oproer, vrees en angs oorheers. Wanneer die storm kom, kom die persoon wat wêrelds
georiënteerd is reaksie, en raak beangs en angstig.
Koninkryksburgers reageer anders, want hulle is in
stille vertroue op God. Die storm bedreig jou nie, want God is daar. Weliswaar
dalk stil, maar Hy is daar.
My gebed is dat jou storms in 2016 jou sal leer wat stilte
is.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking