In dié week besef ek hoe dikwels ons in ons denke
vasgehou word aan die paaltjie wat van kleins af in ons denke geplant is. En so
bly ons staan al is ons groot, fris en uitgegroei, vasgepen met gedagtes van
hopeloosheid, vrees, swak selfwaarde en belemmering.
Ons leef doodeenvoudig in die geloof dat ons iets is
of nie is nie, kan of nie kan nie, mag of nie mag nie, daartoe instaat is of
onbeholpe.
En dit oor ʼn leuen wat in jou kop geplant is, jou
denke aan vasgepen is en jou tot submissies gedwing is.
ʼn Fyn strategie van die Satan om jou, as Kind van God,
geskape na Sy beeld, toegerus met alle vermoëns wat nodig is, te weerhou om ʼn
lewe van oorvloed te leef. Jou te beperk tot ʼn niksseggende ploeteraar, deel
van die massa gesiglose individue op aarde.
“Waarvan praat jy Wilco?” vra jy dalk.
Ek praat van die sirkus olifant. Groot uitgegroeide
oom olifant, wat gedwee en gedwonge vasgemaak staan aan ʼn klein paaltjie onder
die wanindruk dat hy daaraan onderwerp is.
Ek het dit met my eie oë gesien.
Dit werk só. Wanneer ʼn baba olifant “by die sirkus
aansluit,” word baba olifant met ʼn tou of ketting, wat gewoonlik om die poot of
die nek gebind word, aan ʼn pen wat in die grond ingeslaan is, vasgemaak. Dit
maak nie saak hoe baba olifant trek en stoot en teen die pen baklei nie, hy
gaan nêrens heen nie. Dit hou gewoonlik vir so paar dae aan totdat baba olifant
“ingebreek” is en haar lot teenoor die situasie gedwee aanvaar. Van daar af,
sodra baba olifant aan die paal vasgemaak word, sal die olifant net daar staan
en nêrens heen gaan nie.
Baba olifant word later tiener olifant en later
grootmens olifant. Olifant groei, maar die paaltjie bly dieselfde grootte.
Binne ʼn jaar of twee is die olifant heeltemal sterk genoeg en instaat daartoe
om die paaltjie uit te trek en te gaan net waarheen hy wil. Die beeld wat egter
in haar denke vasgepen is vandat sy ʼn baba olifant was, bepaal egter haar
vermoëns.
Die olifant is só gekondisioneer dat hy nie eers sal
probeer om sy gevangenskap te beproef nie.
So werk dit ook met ons. Soms is ʼn beeld, ʼn prentjie,
in ons onderbewuste geplant en ons glo dit. Dit bepaal ons hele lewe van daar
af. Maak nie saak hoe groot leuen dit is nie.
Ek is oortuig daarvan dat alles in hierdie lewe is ʼn
kwessie van kondisionering. Dit is egter maklik om hier te sit en daaroor te
skryf. Dit is egter ʼn ander kwessie as jy deur die omstandighede of aanslae
gebombardeer word. Soos ek terdeë die afgelope tyd (paar jaar?) eerstehands
ervaar het.
Maar hierdie leuens wat reguit van Satan af kom, is
net wat dit is, leuens.
Môre gaan ek skryf oor die verskillende leuenaars wat
Satan gebruik.
Ons het egter, as kinders van God, die vermoë om te
kan dink en te kan kies. Ons kan self bepaal of ons die res van ons lewens in
dié leuens vasgevang gaan bly en of ons die dooie hout uit ons lewens gaan
verwyder en leef.
Dié week het ek dit prakties ervaar. Weens soveel leuens
in my kop het ek altyd gedink ek is onbeholpe as dit kom by werk met my hande,
veral herstelwerk. Nou in die verlede het ek al my hand gewaag, maar met vrees
of twyfel.
Maar so begin ek al meer agterkom, gegewe my
persoonlikheidstipe en klein deurbrake, dat ek nie só onhandig is nie. Dat my
angstigheid en vrees eintlik maar net in my kop sit.
Dié week kom ek in ʼn situasie waar ek ʼn huis implement
moet regmaak. Ek het nie ʼn keuse nie. Daar is nie ʼn dienssentrum naby nie,
dringende werk moet gedoen word en hier is ʼn spertyd. Sonder om te dink of toe
te gee aan vrese of twyfel weens die omstandighede, klim ek in en begin die
ding so stuk-stuk uitmekaar haal, herstel die probleem en sit weer die
spulletjie aanmekaar en viola, dit werk.
En toe tref dit my, vir jare het ek myself beperk deur
die prentjie in my brein. Soos die olifant wat nog steeds hierdie paal in sy
brein as die onoorwinlike boeie sien, het ek my eie vermoëns beperk weens die
prentjies in my brein.
Dit is soms nodig om hierdie boeie en kettings in ons
lewens te gaan herdefinieer en te bekyk. Dis die verskil tussen ons en die
olifant. Ons kan dink, evalueer en herdefinieer. Ons het ʼn keuse en kan kies.
Maar is dit nie hartseer hoe ons, ons hele
lewens dikwels, met dooie hout rondloop, terwyl ons vry kon wees nie?
- Vir meer inligting of om my te kontak, gaan na www.wilcoroberts.co.za
Pragtige metafoor. Mag ek die metafoor gebruik, met erkenning van jou naam.
AntwoordVee uitHallo Paul, baie dankie. Met erkenning mag jy dit met liefde gebruik.
Vee uit