In die vorige twee blogs in dié deel het ek geskryf
oor die leuens waarmee ons so dikwels gebind word, veral as dit kom by ʼn lewe
van oorvloed wat Jesus vir ons kom gee het.
En laas keer het ons spesifiek gekyk na die leuens van godsdiens. Godsdiens, die dief wat kom slag, steel en verwoes.
Dikwels in groot opregtheid val ons vas in die kloue
van godsdiens. Ek weet, ek was self daar. Dit lyk dikwels so onskuldig. So
piëtisties. So geestelik.
Dit klink dikwels so reg. Heiligmaking, gehoorsaamheid
aan Jesus en daai toewyding en erns waarmee ons “siele” vir Jesus moet gaan
wen. Daai ure wat ons in gebed “moet” spandeer.
Dié lysie kan baie lank raak en dit is nie die doel
van hierdie blog nie.
Laat ek ook dadelik sê ek gaan nie om met Christelike
dissiplines, waarvan sommiges eeue oud is en ander in die Protestantse tradisie
verloor is nie. Sommige mense vind groot geestelike waarde daarin. Of anders
gestel, ons belewenisse en toewyding aan God neem verskillende vorme aan. So ek
wil die laaste mens wees wat hieroor kritiek sal uitspreek of ʼn oordeel sal
vel. Wie is ek immers om te bepaal, voor te skryf of myself as ʼn kenner te wil
kom voorhou van hoe enige van ons se verhouding met God ingekleur moet wees en
wat die inhoud daarvan moet wees?
Miskien is daai die woord waarna ek vandag soek. “Oordeel.”
Want as ek my worsteling met die “kerk”, met Christelike tradisies, moet
verwoord, dink ek is die kern daarvan die woord: “Oordeel of veroordeling.”
Só sê vriend Francois toe ná die laaste blog ek bied
nog nie regtig die oplossing nie.
Nou in alle eerlikheid, ek het nie die oplossing nie.
Ek dink niemand het nie. Wat ek wel weet is dat ek ʼn klomp vriende en mense
sien wat hiermee worstel.
Wat ek wel weet is hierdie waarheid. Jesus het
opgestaan. Vergeet van die kruis. Vergeet van Sy lyding en alles wat daarmee
saamgaan. Ja, dit is so, as Jesus nie gesterf het nie, sou Hy nie ook kon
opstaan nie.
Maar, as Hy nie opgestaan het nie, was Jesus maar net
nog een in die statistiek van duisende Jode wat deur die Romeine gekruisig is.
Sommer tussen hakkies, ek het grootgeword met hierdie
persepsie, let wel persepsie – soos baie ander wat aan ons opgedis is – dat Jesus
en die twee knape saam met Hom, omtrent die enigstes was wat aan ʼn kruis
gesterf het. Die waarheid is dat derduisende mense, nie-Romeine, want die
kruisdood was so walglik en skandalig dat ʼn geërde Romein nié so mag gesterf
het nie, deur die Romeine aan kruise vasgespyker is, soms vir geringe
oortredings.
Die verskil met ons Jesus is dit, Hy het nie dood
gebly nie.
Ek wonder hoeveel mense begryp regtig die krag van die
opstanding. Besef dat as Jesus nie opgestaan het nie, was daar nie ʼn Christendom
en ʼn kerk nie. Ek verkies om eerder te sê, was God se Koninkryk nie gevestig
nie.
Deur die eeue is daar soveel klem gelê op die kruisiging.
Die Katolieke en ander het vir ons die prentjie van die Man aan die kruis kom
gee. Die Protestante het die kruis self ʼn simbool van ons geloof gemaak. Die
evangelicals het die walglikheid en lyding van die kruis vir ons met detail kom
inkleur – “Kyk en beleef net wat het Jesus vir jou kom deurmaak.” Die wat The Passion of the Christ gesien het,
sal die grafiese bloeddorstigheid onthou. Bietjie rof vir ons verfynde (in menseregte
deurdrenkte) Westerse gestelle.
Tóg was dit ʼn kruisiging met ʼn verskil. Die
voorhangsel het geskeur! En ʼn heidense Romeinse offisier maak die eerste
belydenis: “Hierdie man was waarlik die seun van God.”
Sou Jesus egter in die graf gebly het, watter hoop,
lewe en toekoms was daar vir ons?
Niks!
Dan was die “christendom” maar net nog ʼn godsdiens
tussen vele ander.
Die Sondagoggend toe Jesus daai klip wegrol en uit die
graf stap, sonder vertoon of glorie, het die geskiedenis van die mensdom op
aarde vir altyd verander.
Jesus kom wys God se liefde tasbaar en sigbaar vir die
res van die mensdom se bestaan. Jesus kom demonstreer God is liefde.
Alles wat in Sy bediening gebeur het, word
onderstreep. Hy het gekom om lewe te kom gee.
En dít is ons hoop. Dít is ons anker. Dít is ons
vertroosting.
Hierdie hoop, anker en vertroosting is nie sigbaar
aards nie. Die lewe gebeur. Godsdiens kom steel die lewe van mense af weg.
Die sondetoestand wat op die aarde heers hou ons
steeds weg van ʼn natuurlike verhouding met God en ʼn lewe wat sin maak, ʼn lewe
van oorvloed.
Lewe is doodeenvoudig in duisternis gehul as dit nie
oopgebreek word met die lig van God se liefde in jou lewe nie. God se liefde
wat deurbreek as gevolg van ʼn leë graf.
Ironies het die opstandingsdag een van die mees
afgewaterde dae geword wat ons in die moderne kerk of christendom vier. Nóg ʼn
leuen van Satan? Om Kersfees en Goeie Vrydag te kom opblaas. Toe hy nog gedink
het hy het die oorhand.
Duidelik is die Satan nie baie opgewonde as ons die
opstandingskrag van Jesus verstaan nie. ʼn Krag só groot dat Paulus in groot
dele van sy briewe liries raak daaroor.
God se liefde prakties gedemonstreer. ʼn Liefde wat tot
uiting kom in Sy liggaam.
Dis hier waar my krisis kom. Ek sien nie, as ek kyk na
die leuens van godsdiens waarin die “kerk” vasgevang is, die liefde van God in Jesus
se opstanding gedemonstreer, sigbaar nie.
Ek sien nie ʼn inklusiewe Jesus wat in Sy bedieningstyd
saamgeloop het met al wat ʼn uitgeworpene is nie, wat gebrokenheid van sonde,
siekte en haat kom genees nie. ʼn Jesus wat die bande van die Satan kom breek
het nie (ʼn tema wat vandag geherdefinieer en weer nuut ingekleur moet word,
maar ander dag meer hieroor). Wat hoop en lewe in ʼn hopelose politieke sisteem
en verwoesting kom bring het nie, maar nie met ʼn aardse koninkryk of bestel of
regering nie, maar met die lewe van die opstanding. Waar nie meer net ʼn
minderheidsgroep ingesluit was nie, maar God die wêreld so lief het dat Hy in ʼn
menslike liggaam ons kom help en verlos. Dat mense God kan vind op verskeie
wyses en maniere en aanbid in ʼn ontploffing van verskeidenheid. God kom maak
Homself aan die mens vindbaar deur wat Jesus kom doen het. Ongelooflik.
Die sonde is oorwin. Die Satan is verslaan. Maar die
einde is nog nie hier nie. Jesus los Sy kerk en gee ons, as Sy kinders, ʼn
tweede kans om ons skeppingsdoel te kom verwesenlik om Sy koninkryk hier te
vestig.
Godsdiens, reëls, veroordeling en eksklusiwiteit is
die leuens waarmee ons vasgevang word in ʼn voor-opstandings Jesus-beeld. Net
nog ʼn godsdienstige karakter.
Maar waar Jesus as die opgestane Here regeer, is daar
liefde, genade, lewe en lig!
My gebed is dat ons hierdie krag sal leer ken en leef
in geloofsgemeenskappe wat ʼn betekenisvolle verskil begin maak op hierdie
aarde. Hier en nou!
- Vir meer inligting of oim my te kontak, besoek gerus www.wilcoroberts.co.za
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking