Maandag 09 Maart 2015

So, is jy happy?



Ek dink dit is 'n veilige aanname om te maak dat elke mens die begeerte het om gelukkig te wees. Al is dit ook net in sekere areas van jou lewe. Maar iewers wil jy darem voel jy ervaar positiewe emosies.

Die wêreld het lyk my "happy"-bedonnerd geraak. Dit is asof daar 'n globale soeke na 'n geluksgodin is ten koste van alles en teen elke moontlike prys denkbaar. Die boodskap wat na jou uitgebasuin word uit elke advertensie, byna elke radiostasie, televisie kanaal en tydskrif is dat jy darem goed moet voel oor iets of vir 'n oomblik. 

Die hele vermaaklikheidsbedryf van biljoene dollers is daarop ingestel om jou net vir 'n oomblik "happy" te maak. Elke artikel wat jy koop, elke comedy en YouTube snaaksigheid wil jou vir 'n oomblik gelukkiger kry.

Die ergste vir my is dat selfs die kerk op dié band wagon gespring het om mense happy te kry. Om aan hulle die geluksgodin van godsdienstige assosiasie te verkoop. Om, toegegooi in 'n Christelike sousie, een of ander gospel kunstenaar, komediant of ander vermaaklikheidsprogram aan jou te verkoop met die belofte van happyness. "Volg net die of daai programmetjie en jy sal gelukkig wees...."

Vir die laaste seker twee jaar het ek nou die saak al van alle hoeke bekyk. En kom ek sê dit nou sommer reguit en kaalvuis: "Dit is een groot spul snert."

Die wêreld het die vermoë om altyd die een of ander nuwe "mode" of "modewoord" uit te lig en te verhef tot die grootste vorm van ons menslike bestaan.

So nou hoor ek dié wat nou darem tot hier gelees het vra: "So sê jy dus ons mag of kan nie gelukkig wees nie?"

Nee, dit is nie wat ek sê nie. Ek wil ook nie hier besig raak met lysies en allerlei voor-en teen argumente nie. Dit is nie my doel met dié en die volgende blog of twee nie. Ek wil eerder by die ware karakter van 'n lwe van oorvloed uitkom. Ek sê dus nie ons moenie wil gelukkig wees of nie geluk ervaar nie. Wat ek wel wil doen is om dit in perspektief te stel en ook die hele ongebalanseerde wêreldse soeke na happyness in die lig van die Bybel te meet.

Op daai noot begin ek sommer met die eerste argument. Die vraag wat ons kan vra is: "Is dit 'n realistiese verwagting om altyd gelukkig te wil wees? Is die lewe nie juis saamgestel uit verskillende fasette nie? Is daar nie 'n tyd vir elke ding op aarde nie? Funksioneer die aarde nie in seisoene nie?"

Geen mens kan  die hele tyd altyd in 'n staat van geluk wil funksioneer nie. Jy gaan jouself totaal uitbrand. Dit is ook nie hoe die lewe werk nie. Maar as dit jou filosofie of soeke is, dan gaan jy een of ander tyd teespoed ervaar en dan nie weet hoe om dit te hanteer nie. Soos die Israelite van ouds. Toe slegte dinge gebeur gaan hulle deur 'n geloofskrisis en wonder waar God is en hoekom God hulle verlaat het. Baie mense worstel vandag nog daarmee. Die oomblik as jy dink iets slegs het gebeur, of jy nou nie "gelukkig" is nie, dink dié persoon God het hom of haar verlaat of vra wat het hy of sy verkeerd gedoen. Of raak opstandig en baklei teen die sogenaamde onregverdigheid.

Maar die lewe werk nie so nie. Daar is 'n seisoen van hitte en baie son. Dan is daar 'n koue seisoen (en nattigheid as jy in die wonderlike Kaap bly).  En alles tussen-in. Maar begin jy met mense gesels kom jy agter dis relatief. Want wat die een van hou, jaag die ander een weg. Die een persoon kan nie genoeg van die hitte kry nie, die ander kan nie wag vir die winter nie.

So is die lewe ook. Daar is verskillende fasette. En wat vir die een geluk kan bring is vir die ander dalk 'n tragedie. Wat ons egter moet besef, is net soos wat ons die hitte, wat deur sommige absoluut verag word,  nodig het, het ons ook die winter, wat ander weer nie kan uitstaan nie, biter nodig.

In ons lewens het ons beide nodig. Sowel die goeie, wonderlike uitbundige, voorspoedige, gelukkige happy tye as die moeilike, uitdagende en minder aangename tye. 

Dit is hier waar dankbaarheid inkom. Want wanneer 'n mens met 'n gesindheid en vanuit 'n lewensfilosofie en geloofsoortuiging van dankbaarheid leef, dan kan jy beide die goeie en die "slegte" tye omarm en besef geluk lê op 'n veel dieper vlak.

En dit is my konklusie waarmee ek vir eers hier wil afsluit - geluk is nie iets in sigself om te moet soek en te vind nie. Geluk is nie die doel van ons lewens nie. Die wêreld sit die pot totaal mis. Geluk is die resultaat van 'n hele paar ander dinge en positiewe uitgangspunte in jou lewe. Jy vind dus nie geluk in iets of iemand nie. Eintlik vind 'n mens nie geluk nie. Dit is nié die gekarikatuurde hapyness-mannetjie met die ewige smile nie. Sal my gruwelik irriteer. Nee veel eerder kom jy op 'n plek waar jy die lewe in sy geheel, in sy totaliteit omarm en leef met 'n baie diep innerlike vrede.