Sondag 27 Maart 2016

Moenie die Satan se leuens oor jou glo nie – deel 2b: Jesus het opgestaan!!!



In die vorige twee blogs in dié deel het ek geskryf oor die leuens waarmee ons so dikwels gebind word, veral as dit kom by ʼn lewe van oorvloed wat Jesus vir ons kom gee het.

En laas keer het ons spesifiek gekyk na die leuens van godsdiens. Godsdiens, die dief wat kom slag, steel en verwoes.

Dikwels in groot opregtheid val ons vas in die kloue van godsdiens. Ek weet, ek was self daar. Dit lyk dikwels so onskuldig. So piëtisties. So geestelik.

Dit klink dikwels so reg. Heiligmaking, gehoorsaamheid aan Jesus en daai toewyding en erns waarmee ons “siele” vir Jesus moet gaan wen. Daai ure wat ons in gebed “moet” spandeer.

Dié lysie kan baie lank raak en dit is nie die doel van hierdie blog nie.

Laat ek ook dadelik sê ek gaan nie om met Christelike dissiplines, waarvan sommiges eeue oud is en ander in die Protestantse tradisie verloor is nie. Sommige mense vind groot geestelike waarde daarin. Of anders gestel, ons belewenisse en toewyding aan God neem verskillende vorme aan. So ek wil die laaste mens wees wat hieroor kritiek sal uitspreek of ʼn oordeel sal vel. Wie is ek immers om te bepaal, voor te skryf of myself as ʼn kenner te wil kom voorhou van hoe enige van ons se verhouding met God ingekleur moet wees en wat die inhoud daarvan moet wees?

Miskien is daai die woord waarna ek vandag soek. “Oordeel.” Want as ek my worsteling met die “kerk”, met Christelike tradisies, moet verwoord, dink ek is die kern daarvan die woord: “Oordeel of veroordeling.”

Só sê vriend Francois toe ná die laaste blog ek bied nog nie regtig die oplossing nie.
Nou in alle eerlikheid, ek het nie die oplossing nie. Ek dink niemand het nie. Wat ek wel weet is dat ek ʼn klomp vriende en mense sien wat hiermee worstel.

Wat ek wel weet is hierdie waarheid. Jesus het opgestaan. Vergeet van die kruis. Vergeet van Sy lyding en alles wat daarmee saamgaan. Ja, dit is so, as Jesus nie gesterf het nie, sou Hy nie ook kon opstaan nie.

Maar, as Hy nie opgestaan het nie, was Jesus maar net nog een in die statistiek van duisende Jode wat deur die Romeine gekruisig is.

Sommer tussen hakkies, ek het grootgeword met hierdie persepsie, let wel persepsie – soos baie ander wat aan ons opgedis is – dat Jesus en die twee knape saam met Hom, omtrent die enigstes was wat aan ʼn kruis gesterf het. Die waarheid is dat derduisende mense, nie-Romeine, want die kruisdood was so walglik en skandalig dat ʼn geërde Romein nié so mag gesterf het nie, deur die Romeine aan kruise vasgespyker is, soms vir geringe oortredings.

Die verskil met ons Jesus is dit, Hy het nie dood gebly nie.

Ek wonder hoeveel mense begryp regtig die krag van die opstanding. Besef dat as Jesus nie opgestaan het nie, was daar nie ʼn Christendom en ʼn kerk nie. Ek verkies om eerder te sê, was God se Koninkryk nie gevestig nie.  

Deur die eeue is daar soveel klem gelê op die kruisiging. Die Katolieke en ander het vir ons die prentjie van die Man aan die kruis kom gee. Die Protestante het die kruis self ʼn simbool van ons geloof gemaak. Die evangelicals het die walglikheid en lyding van die kruis vir ons met detail kom inkleur – “Kyk en beleef net wat het Jesus vir jou kom deurmaak.” Die wat The Passion of the Christ gesien het, sal die grafiese bloeddorstigheid onthou. Bietjie rof vir ons verfynde (in menseregte deurdrenkte) Westerse gestelle.

Tóg was dit ʼn kruisiging met ʼn verskil. Die voorhangsel het geskeur! En ʼn heidense Romeinse offisier maak die eerste belydenis: “Hierdie man was waarlik die seun van God.”

Sou Jesus egter in die graf gebly het, watter hoop, lewe en toekoms was daar vir ons?

Niks!

Dan was die “christendom” maar net nog ʼn godsdiens tussen vele ander.

Die Sondagoggend toe Jesus daai klip wegrol en uit die graf stap, sonder vertoon of glorie, het die geskiedenis van die mensdom op aarde vir altyd verander.

Jesus kom wys God se liefde tasbaar en sigbaar vir die res van die mensdom se bestaan. Jesus kom demonstreer God is liefde.

Alles wat in Sy bediening gebeur het, word onderstreep. Hy het gekom om lewe te kom gee.

En dít is ons hoop. Dít is ons anker. Dít is ons vertroosting.

Hierdie hoop, anker en vertroosting is nie sigbaar aards nie. Die lewe gebeur. Godsdiens kom steel die lewe van mense af weg.

Die sondetoestand wat op die aarde heers hou ons steeds weg van ʼn natuurlike verhouding met God en ʼn lewe wat sin maak, ʼn lewe van oorvloed.

Lewe is doodeenvoudig in duisternis gehul as dit nie oopgebreek word met die lig van God se liefde in jou lewe nie. God se liefde wat deurbreek as gevolg van ʼn leë graf.

Ironies het die opstandingsdag een van die mees afgewaterde dae geword wat ons in die moderne kerk of christendom vier. Nóg ʼn leuen van Satan? Om Kersfees en Goeie Vrydag te kom opblaas. Toe hy nog gedink het hy het die oorhand.

Duidelik is die Satan nie baie opgewonde as ons die opstandingskrag van Jesus verstaan nie. ʼn Krag só groot dat Paulus in groot dele van sy briewe liries raak daaroor.
God se liefde prakties gedemonstreer. ʼn Liefde wat tot uiting kom in Sy liggaam.

Dis hier waar my krisis kom. Ek sien nie, as ek kyk na die leuens van godsdiens waarin die “kerk” vasgevang is, die liefde van God in Jesus se opstanding gedemonstreer, sigbaar nie.

Ek sien nie ʼn inklusiewe Jesus wat in Sy bedieningstyd saamgeloop het met al wat ʼn uitgeworpene is nie, wat gebrokenheid van sonde, siekte en haat kom genees nie. ʼn Jesus wat die bande van die Satan kom breek het nie (ʼn tema wat vandag geherdefinieer en weer nuut ingekleur moet word, maar ander dag meer hieroor). Wat hoop en lewe in ʼn hopelose politieke sisteem en verwoesting kom bring het nie, maar nie met ʼn aardse koninkryk of bestel of regering nie, maar met die lewe van die opstanding. Waar nie meer net ʼn minderheidsgroep ingesluit was nie, maar God die wêreld so lief het dat Hy in ʼn menslike liggaam ons kom help en verlos. Dat mense God kan vind op verskeie wyses en maniere en aanbid in ʼn ontploffing van verskeidenheid. God kom maak Homself aan die mens vindbaar deur wat Jesus kom doen het. Ongelooflik.  

Die sonde is oorwin. Die Satan is verslaan. Maar die einde is nog nie hier nie. Jesus los Sy kerk en gee ons, as Sy kinders, ʼn tweede kans om ons skeppingsdoel te kom verwesenlik om Sy koninkryk hier te vestig.

Godsdiens, reëls, veroordeling en eksklusiwiteit is die leuens waarmee ons vasgevang word in ʼn voor-opstandings Jesus-beeld. Net nog ʼn godsdienstige karakter.

Maar waar Jesus as die opgestane Here regeer, is daar liefde, genade, lewe en lig!

My gebed is dat ons hierdie krag sal leer ken en leef in geloofsgemeenskappe wat ʼn betekenisvolle verskil begin maak op hierdie aarde. Hier en nou!

Sondag 13 Maart 2016

Moenie die Satan se leuens oor jou glo nie – deel 2


Verlede week het ek geskryf oor die feit dat ons baie keer gevange gehou word deur die leuens wat ons oor onsself glo en ons beroof van ʼn lewe van oorvloed. Leuens wat dikwels deur ʼn fyn beplande strategie van die Satan in ons onderbewuste vasskopplek gevind het en ons keer om te kan leef.

Maar vandag wil ek bietjie ratte verwissel en ek mag dalk op tone trap, maar dit is ook reg so, want ek dink die tyd is hier dat daar bevryding kom in die kerk – die een plek op aarde waar baie mense nog vasgevang is in slawerny. Miskien is dit die missie wat God op my hart lê in hierdie tyd en omstandighede. En ons weet dat enige persoon wat die status quo in die gemaksones van mense kom aanvat, gewoonlik nie baie gewild is nie.

Dier geskiedenis is vol voorbeelde, ook hier op eie bodem. Ons grootste voorbeeld is Jesus self, vir sy radikale paradigma skuiwe is Hy immers aan ʼn kruishout vasgespyker.

Vandag wil ek stilstaan by die grootste leuen wat mense in die kerk in slawerny gevange hou. En sommer op dié punt, met my fyn waarneming oor baie jare, gesprekke en betrokkenheid by baie mense en navorsing, is my konklusie dat hierdie juis die grootste rede is dat ons kerke leegloop. Nie ons gebrek aan goeie bands of dogma of een van die drie duisend ander redes wat ons so dikwels wil voorhou nie. Maar ek hardloop myself vooruit.

Ek praat van die groot G – godsdiens.

ʼn Fyn beplande strategie van die Satan self om mense weg te hou van God af.

Nee, ek praat nie van godsdiens in die lig van ander godsdienste, Hindoes of Islam of Boeddhisme of een van die ander 4200 godsdienste en spiritualismes in die wêreld nie. Ook nie oor semi-Christelike bewegings soos die Jehova’s en Mormone nie. Nee, ek praat van die Christendom, die kerk. Ook nie van die ou sus, die Rooms Katolieke of haar jonger sussie die Ortodokse en ál die ander in dié kategorie nie. Nee ek verwys na goeie ou Protestante kerke, wat die Gereformeerdes, die Lutherane, die Baptiste, die Evangeliste, die (duisende) Pinkster kerke of moderne Charismatiese en vernuwingskerke almal insluit. Dalk deesdae nog in ʼn groter mate die laasgenoemde twee, weereens met duisende versplinterings.

Nou weet ek sommige broers sluk in hulle spoeg. En jy is reg. Ek wil jou skok. Ek wil hê jy moet gaan dink. Want die kerk het ʼn karikatuur geword van die “beweging” wat Jesus Christus met 12 apostels begin het.

Die van julle wat my volg sal weet dat een van my fondasie tekste Johannes 10 en spesifiek vers 10 is: “Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.”

Die probleem met moderne Bybellees deesdae, en aangevuur deur populistiese predikers sonder enige goeie, legitieme teologiese opleiding, is dat versies soos lekkergoed by ʼn kinderpartytjie rondgegooi word. Soms gee dit wel ʼn waarheid weer wat ʼn persoon in ʼn bepaalde krisis kan bemoedig of versterk. Maar die probleem is dat mense dikwels vasklou aan “hul broodjie vir die dag”, en dan teleurgestel word, want God doen dan nie soos belowe nie. Dit terwyl die vers totaal uit verband geruk word en verdraai word om die spreker (let wel, ek kies die woord in teenstelling met prediker hier), sy punt in sy tema wil bewys – nie dat ek iets teen tematiese prediking uit beginsel het nie, maar gebruik dan net die Bybel met verantwoordelikheid asseblief.

Een van dié problematiese verse uit konteks, is Johannes 10:10. Want inderdaad kom som Jesus sy hele rede vir sy koms as God geïnkarneer hier in die stofstrate van die aarde met dié een sin op: “Ek het gekom sodat julle lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Zoë lewe.

Maar toe kom wys vriend Danie van der Merwe (dertigjarelange vriend en opgeleide pastoor en teoloog) my op hierdie waarheid.

Want die probleem lê nie by die feit dat ons vashou aan Jesus se belofte van ʼn Zoë lewe nie – hoewel ons verstaan van dié woord as materialistiese Westerlinge dalk heelwat kan verskil van wat Jesus werklik bedoel het, wat Sy betekenis van die woord was – maar by die eerste deel van die vers.

Jesus sê hier: “Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.”

Nou enige goeie gelowige mens sal onmiddellik die dief met die duiwel interpreteer. Dit is immers wat ons vir jare gedoen het. Dalk nog ʼn ietsie anders hier inlees, maar ons vergeet dan die konteks, nie net van hierdie hoofstuk nie, maar van God se woord pad met die volk Israel vir die voorafgaande 4000 jaar.

As ons ʼn hoofstuk terug gaan, praat Jesus met die Fariseërs en dan stamp hulle kop. Hoekom? Want Jesus het ʼn blinde man op die Sabbat genees. In die konteks van die Fariseërs se verstaan van die wet, was dit ʼn gruwelike oortreding van die wet. So, hierdie man, Jesus, wat Homself kom voorhou as ʼn profeet, as ʼn man van God, doen eintlik die ondenkbare, Hy breek die wet van God gruwelik.

Klink dit nie so bekend in die moderne kerk van vandag nie? Hoe kan jy ʼn geroepene of ʼn Christen wees, WANT, ons aanbid nie so nie? Jy steek nie jou hande in die lug op nie. Jy lees nie meer die wet as deel van die liturgie nie. Jy dra nie ʼn das en baadjie nie.

Jy praat nie in tale nie. Jy kan nie so met die pastoor praat nie. Die dominee kan nie met ʼn kort broek loop nie. Ons sing eers drie lofprysingsliedjies en dan sing ons drie aanbiddingsliedjies – dit is hoe ons dit doen. Dit is ONS wet. ONS kerkorde sê jy mag nie twee kilometer buite jou gemeente grense sonder die toestemming van die buurkerk se kerkraad ʼn omie wat op sy sterwensbed lê, besoek nie.

Ag ek probeer maar ʼn paar simpel voorbeelde noem. Ek hoop jy hoor wat ek sê.

Kom ek draai dit sommer nog bietjie stywer en gee sommer ʼn paar super geestelikes. Heiligmaking. ʼn Lang lys sondes wat ons voorhou vir mense van hoe hulle mag lewe, eet en aantrek, byvoorbeeld, seks, tatoes, wyn, hoe ons, ons tyd benut. O, en dan daai gunsteling super geestelike goed wat sommiges mos laat uitstaan met goed soos bevryding, Joodse name, Pasga en die vier van ander feeste en helaas die Sabbat wat onderhou moet word en die alewige beheptheid met die duiwel homself.  

En laat ek dit maar noem. Die nuwe verdelende faktor in die kerk. Nee nie meer die vrou in die amp nie, dank Vader (hoewel ek lees daar is wragtig nog steeds mense wat hulself daarmee besig hou), of gesamentlike aanbidding oor rasgrense heen, of dromme in die kerk nie. Ek praat van die “Gay kwessie”. Maar ek gaan nou niks daaroor sê nie, hoewel ek dink jy sal later sien wat ek wel graag sal wil sê.

Ag en dan praat ons nie eers oor die miljuisende dogmatiese kwessies wat die kerke nie net verdeel nie, maar wat ons slaafs navolg, mense in slawerny gevange hou en veroordeel.

Terug na Johannes 9 en 10. Jesus doen die ondenkbare en genees ʼn blinde man op die Sabbat (O ekskuus, die Shabbat). Die Fariseërs vat Hom aan, maar Jesus bly nie stil vir die godsdienstige gespuis nie, al sou dit beteken dat hulle Hom later deur die Romeine laat kruisig. Hy begin praat oor hul geestelike blindheid.

En hiermee gaan Jesus terug na die Ou Testament, want hulle wat die volk moet lei, is die blinde herders wat God se volk vernietig. Onmiddellik vat Jesus die tema van herders aan. In die konteks van Israel het hulle die analogie tussen die geestelike leier en die herder verstaan (Vergelyk Sagaria 11, Jesaja 40, Jeremia 31 en Esegiël 34).

Jesus kom sê vir die Fariseërs, julle lei nie die volk nie, julle mislei die volk. Julle, met ál julle godsdiens en wette is soos die dief, wat inkom om te steel en te slag en te vernietig.

Wat doen godsdiens? Dit kom tap die lewe uit jou uit. Dit kom vernietig jou. Julle Fariseërs kom bind My volk, My skape, My kudde vas met kettings van slawerny. Julle kom steel van hulle die lewe met julle misleiding en ál julle godsdienstige reëls, regulasies, wette, voorkeure, aanhangsels, geestelike verpligtinge, vooropgestelde vereistes en spieëlbeelde van hoe jy moet wees, dink, lyk, optree en praat voordat jy vir “ons godsdiens, ons kerk en ons god” aanvaarbaar kan wees.

MAAR, sê Jesus die Christus, EK IS, dus God self, wat die goeie herder is. En wat ek kom doen is om lewe te gee. ʼn Lewe van vryheid en oorvloed omdat jy IN My daardie lewe kry. In verhouding met God, die Vader, nie deur wat jy doen of nie doen nie, maar deur wat Ek vir jou gedoen het aan die Kruis en in die opstanding.

Elders sê Jesus in Matteus dat die las van godsdiens, met ander woorde al ons mensgemaakte pogings om God (omdat dit is wat ons geleer word om te doen) tevrede te stel, soos ʼn swaar juk op die mense lê. Jesus sê Sy las is lig. Want Hy kom vat godsdiens, mensgemaakte idees en wette, uit die prentjie weg (Matteus 11:29).

Dalk skud ek jou paradigma. Ek hoop so.

Hoekom raak ons so maklik vasgevang in ons eie mensgemaakte versinnebeelding van wat ons dink dit vra om God te dien (ek wil amper nie sê om Jesus te volg nie, maar juis hier ook, het ons so baie reëls en vereistes en idees wat dit behels om Jesus te volg)?

In die eerste plek is dit omdat vryheid gevaarlik is. Min mense kan vryheid hanteer – kyk maar na die Matrieks aan die einde van die jaar. God het egter reeds in die skepping besluit om die mens vryheid te gee, ʼn keuse wat die mens redelik vinnig opgemors het. Dus buite Jesus om is ware vryheid nie moontlik nie.

Tweedens soek ons mense mos riglyne. Die volk bou ʼn goue kalf, want hy moet God sien. Ons bou liturgiese ruimtes met sekere style en vorme om ons God te probeer sien.

Derdens is dit hoe die massas beheer word. Die kerk moet beheer uitoefen. Die herder moet sy skape op die smal pad hou. En dan maak ons, ons eie reëls om die pad uit te stip – natuurlik met behulp van die Bybel.

Nou hoor ek dadelik hoe sommige mense opspring en sê: “Maar in hoofstuk 15 sê Jesus julle sal in My bly as julle My opdragte gehoorsaam.” En dan maak hulle weer ʼn hele teologie oor gehoorsaamheid aan Sy opdragte, met ander woorde ALLES wat ons sogenaamd volgens hulle moet nakom.

Kom ons vat ʼn stappie terug na die konteks van hierdie hoofstuk.

Wat is die gehoorsaamheid waarvan Jesus hier praat?

Net een woord, LIEFDE. Klink dit soos iets wat Jesus telkens gesê het?

In hoofstuk 17 kom bid Jesus daai aangrypende gebed net voor Hy oorgelewer word, naamlik dat die wêreld nie net sal weet dat ons Sy kinders is deur ons liefde vir mekaar nie, maar dat die wêreld God só sal sien.

Godsdiens kom pers liefde uit. Dit steel en verwoes en vernietig. Dit veroordeel, beoordeel en skryf af. Dit sluit uit as jy nie inpas by die vereistes nie, hetsy, taal, gewoontes, klere of dogma. Dit wil mense reg slaan deur die uiterlike vertoon en vereistes.

Is dit nie juis die rede hoekom die kerk leegloop nie? Is dit nie juis omdat presies die teenoorgestelde van wat Jesus kom demonstreer en vestig het as Sy kerk, gebeur nie? Is dit nie omdat God nie sigbaar is nie?

Jesus kom verander harte. Hy kom demonstreer liefde, deur Sy lewe af te lê vir ons.

Dít is lewe in oorvloed. Zoë lewe. ʼn Lewe van ware liefde in gesinne, families, die kerk en ook vir die wêreld.



Sondag 06 Maart 2016

Moenie die Satan se leuens oor jou glo nie


In dié week besef ek hoe dikwels ons in ons denke vasgehou word aan die paaltjie wat van kleins af in ons denke geplant is. En so bly ons staan al is ons groot, fris en uitgegroei, vasgepen met gedagtes van hopeloosheid, vrees, swak selfwaarde en belemmering.

Ons leef doodeenvoudig in die geloof dat ons iets is of nie is nie, kan of nie kan nie, mag of nie mag nie, daartoe instaat is of onbeholpe.

En dit oor ʼn leuen wat in jou kop geplant is, jou denke aan vasgepen is en jou tot submissies gedwing is.

ʼn Fyn strategie van die Satan om jou, as Kind van God, geskape na Sy beeld, toegerus met alle vermoëns wat nodig is, te weerhou om ʼn lewe van oorvloed te leef. Jou te beperk tot ʼn niksseggende ploeteraar, deel van die massa gesiglose individue op aarde.

“Waarvan praat jy Wilco?” vra jy dalk.

Ek praat van die sirkus olifant. Groot uitgegroeide oom olifant, wat gedwee en gedwonge vasgemaak staan aan ʼn klein paaltjie onder die wanindruk dat hy daaraan onderwerp is.

Ek het dit met my eie oë gesien.

Dit werk só. Wanneer ʼn baba olifant “by die sirkus aansluit,” word baba olifant met ʼn tou of ketting, wat gewoonlik om die poot of die nek gebind word, aan ʼn pen wat in die grond ingeslaan is, vasgemaak. Dit maak nie saak hoe baba olifant trek en stoot en teen die pen baklei nie, hy gaan nêrens heen nie. Dit hou gewoonlik vir so paar dae aan totdat baba olifant “ingebreek” is en haar lot teenoor die situasie gedwee aanvaar. Van daar af, sodra baba olifant aan die paal vasgemaak word, sal die olifant net daar staan en nêrens heen gaan nie.

Baba olifant word later tiener olifant en later grootmens olifant. Olifant groei, maar die paaltjie bly dieselfde grootte. Binne ʼn jaar of twee is die olifant heeltemal sterk genoeg en instaat daartoe om die paaltjie uit te trek en te gaan net waarheen hy wil. Die beeld wat egter in haar denke vasgepen is vandat sy ʼn baba olifant was, bepaal egter haar vermoëns.

Die olifant is só gekondisioneer dat hy nie eers sal probeer om sy gevangenskap te beproef nie.

So werk dit ook met ons. Soms is ʼn beeld, ʼn prentjie, in ons onderbewuste geplant en ons glo dit. Dit bepaal ons hele lewe van daar af. Maak nie saak hoe groot leuen dit is nie.

Ek is oortuig daarvan dat alles in hierdie lewe is ʼn kwessie van kondisionering. Dit is egter maklik om hier te sit en daaroor te skryf. Dit is egter ʼn ander kwessie as jy deur die omstandighede of aanslae gebombardeer word. Soos ek terdeë die afgelope tyd (paar jaar?) eerstehands ervaar het.

Maar hierdie leuens wat reguit van Satan af kom, is net wat dit is, leuens.
Môre gaan ek skryf oor die verskillende leuenaars wat Satan gebruik.

Ons het egter, as kinders van God, die vermoë om te kan dink en te kan kies. Ons kan self bepaal of ons die res van ons lewens in dié leuens vasgevang gaan bly en of ons die dooie hout uit ons lewens gaan verwyder en leef.

Dié week het ek dit prakties ervaar. Weens soveel leuens in my kop het ek altyd gedink ek is onbeholpe as dit kom by werk met my hande, veral herstelwerk. Nou in die verlede het ek al my hand gewaag, maar met vrees of twyfel.

Maar so begin ek al meer agterkom, gegewe my persoonlikheidstipe en klein deurbrake, dat ek nie só onhandig is nie. Dat my angstigheid en vrees eintlik maar net in my kop sit.

Dié week kom ek in ʼn situasie waar ek ʼn huis implement moet regmaak. Ek het nie ʼn keuse nie. Daar is nie ʼn dienssentrum naby nie, dringende werk moet gedoen word en hier is ʼn spertyd. Sonder om te dink of toe te gee aan vrese of twyfel weens die omstandighede, klim ek in en begin die ding so stuk-stuk uitmekaar haal, herstel die probleem en sit weer die spulletjie aanmekaar en viola, dit werk.

En toe tref dit my, vir jare het ek myself beperk deur die prentjie in my brein. Soos die olifant wat nog steeds hierdie paal in sy brein as die onoorwinlike boeie sien, het ek my eie vermoëns beperk weens die prentjies in my brein.

Dit is soms nodig om hierdie boeie en kettings in ons lewens te gaan herdefinieer en te bekyk. Dis die verskil tussen ons en die olifant. Ons kan dink, evalueer en herdefinieer. Ons het ʼn keuse en kan kies.

Maar is dit nie hartseer hoe ons, ons hele lewens dikwels, met dooie hout rondloop, terwyl ons vry kon wees nie?