Sondag 08 Februarie 2015

Dié loper sluit alles oop #2



In die eerste blog oor dié wondersleutel, het ek verduidelik dat God vir ons reeds die sleutel tot 'n lewe van oorvloed gegee het in ALLE areas van ons lewe. Vroeër het ek gekyk na die sleutel en hoe 'n mens die sleutel moet gebruik. Maar nou krap ons bietjie dieper en kyk na die loper wat alle deure ontsluit. En die loper is ons afhanklikheid van God.

Ons probleem is ons kennis en verstaan van God en Sy koninkryk. Dikwels 'n halwe verstaan van wat Jesus werklik kom doen het en wat die erfdeel is wat ons in Hom ontvang het.

In die boek oor Kies 'n lewe van oorvloed - Koninkryksdenke versus wêreldse reaksie - waarin ek in diepte na al die verskillende fasette van 'n lewe van oorvloed in al nege areas van ons lewe kyk, sal ek dié waarhede in detail opbreek. Die plan met die boek is nie 'n vinnige kitsleesboek nie. Dit gaan 'n interaktiewe reis wees waarin jy God ontdek en in die proses begin om al meer die nuwe kleed van verlossing aan te trek, of in 'n ander Pauliniese metafoor, jou gedagtes vernuwe op waar Christus is. Die gedagte is om jou op 'n reis van 365 dae te neem, sodat jy elke dag oor een aspek kan mediteer en een waarheid jou eie maak. Dit is tyd dat God se Kinders begin om gemiddeldheid en 'n geploeter in die wêreld eenkant toe te skuif en besit begin neem van die krag en erfdeel wat hulle in Christus deelagtig is.

Maar genoeg advertensiebreek vir eers. Die vraag waarmee ek die vorige blog oor dié onderwerp afgesluit het, is hoe ek die deure met die afhanklikheidsloper oopsluit. Ek gaan gou eers weer afdwaal. In die komende week gaan ek begin skryf oor 'n Kind van God se grootste vyand, vrees. Sien vrees is net soos 'n lewe van oorwinning gebasseer op 'n bepaalde (toegepaste) kennis. 

Afhanklikheid van God, die loper waarmee 'n lewe van oorwinning oopgesluit word, is ook gebasseer op kennis. Maar nie sommer enige kennis nie. Die regte kennis. Ek kan net afhanklik wees van iemand, of 'n saak, wat ek vertrou. Simplisties gestel. Dink mooi hoekom aanvaar jy baie dinge in ons samelweing of kultuur goedsmoeds. En so doen alle ander mense binne hul kultuur, taal, wêreldbeeld of religie. Jy word groot daarmee en daarom aanvaar jy dit as algehele waarheid en jy vertrou daarin.

Jy dink nie daaroor nie. En daarom vertrou jy en is afhanklik van dit wat goedsmoeds aan jou opgedis word. So word ons ook gekondisioneer, of dalk is 'n beter woord gemanupileer, deur Holywood en ander media, nuus, sosiale opinie en die groepsdruk. Ek kan baie lank hieroor aangaan. Meeste mense aanvaar naïf wat opgedis word sonder om dit te bevraagteken. En dié wat dit wel analisties bekyk en bevraagteken, word dikwels gemarginaliseer of gekritiseer. 

Nóg 'n groep waar ons die fenomeen waarneem, en deesdae amper so sterk beïnvloed word met die globale samelewing dat bostaande kriterea soms sekonder raak, is ouderdomsgroep. Die nuwe x-generasie is 'n tipiese voorbeeld hiervan. Jong mense vanuit alle samelewings (of minstens die wat deur die globale media geraak word), begin almeer na mekaar lyk, dieselfde glo en begin funksioneer, dink en praat soos mekaar.

Kom ek verduidelik aan die hand van 'n voorbeeld. Hier in Kaapstad is 'n brug waar die R300 die N1 kruis. Wat dié brug uniek maak, is dat dit so lang hoë brug is wat op baie lang, dun pilare staan. Nou die gemiddelde motoris stop nie wanneer hy of sy afdraai om oor dié brug te ry nie. Ek wonder of dit ooit raakgesien word. Miskien is ek die uitsondering, maar my kop is telkens óf by die ingeneurswonder óf die vraag of die ding gaan hou. Maar ons ry daaroor sonder om vrae te vrae. Ons gaan trek nie statistieke oor die brug en bekyk dit wetenskaplik of die ding wel sal bly staan voordat ons die pad aandurf nie. Nee ons aanvaar doodeenvoudig die algemene kennis dat die ding gebou is met die nodige kundigheid en dat alle materiaal daarin en almal daarby betrokke vertrou kan word om my veilig aan die ander kant te kry. Net so.



Nou hoekom twyfel so baie mense in God of in God se vermoë of wie Hy is in sekere areas van die lewe? Dalk is dit dus tyd om werklik te begin kyk wat ons glo en hoekom ons glo wat ons glo. Soos daar so baie goed is wat ons maar net aanvaar, want dit is die kennis waarmee ons opgestop is of deur die jare mee gekondisioneer is, bepaal dit dikwels wat en hoe ons oor God dink en glo. En veral in die massa-mentaliteit het elkeen mos sy eie opinie. Wanneer dit by grondwaarhede kom, tel opinies nie, net waarheid. Jy mag maar jou opinie oor swaartekrag hê, die bestaan daarvan selfs ontken of onder die ilusie verkeer dat dit geen invloed op jou daaglikse bestaan het nie, maar die enigste een wat mislei word, is jyself.

Die sleutel kan net gedraai word as ek my afhanklikheid van God besef, en afhanklikheid is alleen moontlik gebasseer op verhoudingskennis. 

Woensdag 04 Februarie 2015

Dié loper sluit alles oop



ʼn Loper is ʼn wonderlike ding. As kind het ek altyd gefantaseer dat as ek net ʼn loper in die hande kan kry, sal die hele wêreld letterlik vir my oopgesluit word. Baie jare later toe ek as koster by ʼn kerk werk en met dié wonder van ʼn kinderfantasie in my hand staan, het ek ontdek dat ʼn loper toe nie regtig ʼn magiese krag het nie. Met die regte loper wat op ʼn sekere nommer slot pas, kan jy wel ʼn klompie deure oopsluit, maar dit sluit beslis nie ál die deure elke keer oop nie.

Kinderfantasieë is ongelooflike kragtige goed. As ʼn mens dit mooi gaan bestudeer kom jy agter dat binne baie van dié fantasieë lê die waarheid oor wie jy is, jou diepste passie, dikwels opgesluit. Nou nie letterlik as die polisieman of verpleegster dalk nie, maar iets binne jou wat ʼn begeerte na iets in dié beroepe laat opvlam. Dit laat jou ervaar wat jou werklike potensiaal eintlik is. Daar is geen beperkinge nie. Ongelukkig sorg die lewe se klappe dikwels dat ʼn mens of van dié paadjie afdwaal óf dat jy nie meer in jouself glo nie.

Jesus het ons kom leer wat die loper is wat wel alle deure na ʼn lewe van oorvloed oopsluit. En dié spesifieke loper het wel die vermoë om alle deure oop te sluit as jy dit gebruik.

Wanneer jy nie ʼn deur kan oopkry nie, of jou sleutel nie wil pas nie, is dit omdat jy met die verkeerde sleutel in jou hand staan. Die wonder van die loper is dat dit wel alle deure oopsluit sodra jy dit in jou hand het en reg gebruik.

Die meeste “Christene” (ek verkies om eerder te praat van Kinders van God aangesien die woord “Christen” in sy wortel sowel as in vandag se tyd totaal en al ʼn verkeerde betekenis dra en dit was ook nooit die naam wat Jesus aan Sy volgelinge gegee het nie) leef ongelukkig in meeste areas in hul lewe nie ʼn lewe van oorvloed nie, maar van verloor. En veral in hul gees, die rede waarom die res van ons lewens dikwels so donker is.

Nou voor iemand dink dit is ʼn beskuldiging of ʼn aanklag, allermins. Wat ek sê is dat dit wat Jesus vir Sy kerk en Sy kinders bedoel het, is net soveel groter, soveel ryker en só ʼn ongelooflike lewe van oorvloed waarop ons uitmis. En laat ek bysê, ek dink daar is bitter min Kinders van God wat werklik op alle vlakke in alle areas van hul lewe alles ervaar wat God vir hulle in gedagte het. Dit is deel van ons lewensreis. Ekself is nog maar in die begintreë van dié reis, maar dit beteken nie dat dié waarheid van God se Woord nie vasstaan nie. Die krag lê in Hom, nie in ons nie.

Die loper wat Jesus vir Sy kerk kom gee het om ʼn lewe van oorvloed op alle vlakke van hul lewe (siel, liggaam en gees) te kom ontsluit, is afhanklikheid.

Jesus se bediening het, soos deur Matteus opgeteken, in die bergpredikasie begin met dié woorde (5:3) - “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel."

Ekself het vir baie lank ʼn wanpersepsie gehad oor wat afhanklikheid beteken. Ek het altyd gedink dit het net te doen met mense wat min geld het of in armoede leef. Baie minder as die bietjie wat ek het, daarom kan nie eers ek afhanklik wees nie.

Maar toe ontdek ek afhanklikheid het niks te doen met jou skrapse bankbalans nie. Want of jy nou ʼn bietjie of baie het, jy is van God afhanklik. Die grote van jou bankbalans beteken in der waarheid geen sekuriteit insigself nie. As jy min het, bekommer jy dalk oor daaglikse behoeftes. As jy baie het raak die bekommernis dikwels net soveel meer, veral as die aandelebeurs begin beer-neigings toon.

Bowenal, afhanklikheid het in der waarheid egter nie alles met geld te doen nie, maar met elke aspek en area van jou lewe. Eintlik met jou hele lewe as geheel.

Afhanklikheid beteken dat jy in God se liefde en genade leef. Dit beteken dat jy besef jy kan nie die lewe self leef nie. Dit beteken dat jou aksies kom uit die feit dat jy jou lewensenergie en bestaan uit die bron tap.


Dié loper sluit weliswaar deure in alles oop sodra jy kan konnekteer. Volgende keer meer oor hoe sluit ek deure met die afhanklikheidsloper oop.