Sondag 31 Januarie 2016

Die snoeityd van fondasie lê


In Matteus 7 van vers 24 af gebruik Jesus die vergelyking van om jou huis op sand of ʼn stewige fondament te bou. Die verstandige of wyse mens bou ʼn huis op ʼn stewige fondament. Dit is eintlik so logies dat ʼn mens amper wil sê: “Duh?”

Paulus onderstreep hierdie feit nog verder wanneer hy in Kolossense 2:7 dit in dik swart letters onderstreep dat ons op Christus moet bou. Die woord beteken letterlik die stewige fondasie van ʼn hoë gebou.

In die jaar wat ek weg is by my vorige werk het ʼn hospitaalgroep begin om ʼn nuwe hospitaal in Kaapstad te bou, reg oorkant my vorige werkgewer. Dié is seker nou al voltooi of byna gereed vir okkupasie, maar ek was redelik lanklaas daar gewees.

Ek het die proses redelik fyn dopgehou in die tyd wat ek daar was. En die interessante waarneming vir my was hoe lank dit neem om die fondasie uit te grawe en te lê.

Ek het dieselfde proses so drie jaar terug gesien met ʼn huis wat agter my gebou is. Die aanvanklike werk om op te meet, die gate te grawe en te sorg dat alles gereed is om die fondasie te gooi, en dan die eventuele proses van fondasie lê, vat relatief lank in vergelyking met die res van die bouwerk.

Toe ek verlede jaar in die middel van die jaar weer verby die nuwe hospitaal ry wat in aanbou is, was ek verstom om te sien hoe hoog die gebou al staan.

Die fondasie lê gedeelte van die bouery het maande lank geduur. Maar toe die bouers eers met die konstruksie begin, het dit vinnig gevorder.

Dieselfde met die huis destyds. In ʼn relatiewe kort tydjie was die dak op en selfs die afronding binne voltooi. Baie vinniger as wat dit geneem het om die fondasie te lê.
Dit laat my aan ons lewens dink.

ʼn Mens word vir jare gevorm. Dit is die proses om jou te maak wie jy is. Maar dit is nie altyd alles goed of bevorderlik vir jou nie.

En net so met jou geestelike lewe. Die proses van wedergeboorte is maar die begin. Jy word gebore en gevorm. Dan begin die groeiproses. Die dissipelmaak proses.

Hierdie proses kan soms jare neem net soos in die fisieke wêreld. Dit is ʼn veranderingsproses van die ou dinge na die nuwe dinge. En ongelukkig, net soos met mense se grootword in die fisieke, kan dinge in die geestelike ernstig skeefloop.

Of mense groei net doodeenvoudig nie. Word wedergebore, kom tot bekering, maar bly dan soos babatjies. Klein en afhanklik van ander of die dominee, pastoor of selherder vir hul geestelike lewe. En in die verlede was dit hoe kerk bedryf is ook. Die dominee was my toegang tot God (gelukkig dink ek daardie waardesisteem het darem begin verkrummel).

Baie kinders van die Here se lewens word nooit getransformeer tot koninkrykswaardes en koninkryksreaksies nie en daarom leef en reageer baie kinders van die Here steeds maar soos in die ou lewe, soos die wêreld voorskryf of in ons natuurlike menslike natuur na vore kom.

Jesus het gebruik die vergelyking met saad wat nie opgroei en vrug dra nie (vergelyk Matteus 13).

God snoei egter Sy wingerd reg sodat daar vrug kan wees.
Hier is drie maniere waarop God ons só reg snoei sodat ons, ons lewens op ʼn baie sterk en stewige fondasie kan bou waar die gebou nie sal wankel nie, maak nie saak hoe sterk die wind of storm is nie.

In die eerste plek besef die meeste westerlinge nie die belangrikheid van ons geesdimensie nie. Ons is so geskoei en gevorm deur die Modernisme (in ons vormingsjare), dat, al leef ons nou in ʼn nuwe ere van die Post-modernisme met ons nuwe gewaarwordinge, ons steeds nie heeltemal in voeling is met ons geesdimensie nie. En dit is hier waar die snoeiproses begin. Ons het nodig om reg gesnoei te word sodat ons ontslae kan raak van die ou manier van godsdienstigheid, van rasionalisme en vorm godsdiens in plaas van spiritualisme. Of eerder, ons verandering na die verstaan van wie ons IN Christus is. Ons het nodig om in ons verstande so gesnoei te word dat ons besef ons fondament lê in Christus, in ons verhouding met God, nie hoe goed onsself dinge kan laat gebeur nie. Dit is nodig dat God ʼn bietjie van hierdie “wêreldse” gees van die modernisme, en selfs die post-modernisme, in ons ontslae raak sodat Koninkrykswaardes ons denke en gedrag bepaal.

In die tweede plek is dit nodig dat ons gesnoei word dat ons kan begin groei. Om op die fondament van Christus te bou is ʼn groeiproses. Dis ʼn proses waar ons begin besef dat ons hele lewe is afhanklik van hierdie bevrydende waarheid en gebeure in ons lewe. “Bekering” of “wedergeboorte” beteken nie om in ʼn nuwe stel godsdienstige verpligtinge en (mensgemaakte) wette en gunsteling dogmatjies vasgevang te raak nie. Nog minder beteken dit ʼn droë sinnelose lewe sonder enige avontuur of lewe. Néé, jy kan alleen lewe as jy op fondament bou, en daai fondament is Christus. Daar is geen ander fondament in hierdie lewe wat ons lewens werklik vastigheid gee nie. Dus is ʼn snoeiproses nodig in ons breine en ons emosies waarin ons kan oorgee in ons gees waar ons die Heilige Gees toelaat om ons te rig en te lei.

Derdens het ons snoeiwerk nodig om ontslae te raak van ons pogings om die fondament te lê. As ek so terugkyk oor my lewe besef ek hoeveel keer ekself probeer het om antwoorde en oplossings te kry. Dit gesê, en hierdie was ʼn jarelange worstelstryd vir my, beteken dit nié dat ons nie beplan, nie doelwitte stel en nie oor ons toekoms besluit nie. Inteendeel, ek is al hoe meer oortuig daarvan om dit nié te doen nie is juis om op sand te bou. Maar dit is nie ʼn oefening wat net met die verstand gedoen kan word nie. En beslis nie met ons emosies waar ons dikwels reaksionêr optree en besluite neem nie. Nee dit is ʼn integrale proses tussen verstand, wil en emosies (sielsdimensie) en die gees. Dit is waar jy op grond van Spreuke 3 en 16:1 jou pad “oorgee” aan God. Maar oorgee is nie pasifisme en ʼn gesindheid van “laat Gods water maar oor Gods akker loop” nie. Dit is nie hierdie moderne lewensbeskouing van “ons kyk maar wat gebeur” nie. Hoeveel mense leef maar net dag in en dag uit, jaar in en jaar uit sonder enige idee waarheen hulle op pad is. Besluit nie waar en hoe hul jaar gaan eindig in alle dimensies van hul lewe nie. Nee, om oor te gee, en dit is baie duidelik in die hele konteks van Spreuke, is om saam met God te beplan. Om siel en gees te laat saamwerk. Meeste mense is passief en die res is net op die sielsdimensie gefokus. Maar ek is al hoe meer oortuig, en dis vir my óók ʼn groeiproses, dat dit ʼn proses moet wees wat in ons gees ontspring. Waar die fondament van elke area van jou lewe in die geesdimensie gelê moet word.  

Dit is waar God ons moet snoei, sodat ons besef dat my hele lewe is afhanklik van Hom. Dat sukses en geluk en vrede en vreugde ontspring in my gees dimensie. Ek kan en hoef dit nie te gaan fabriseer of in goed, het sy werk, besittings of familie of vriende, te loop soek nie. Nee ons HET dit reeds IN Christus. Die groeiproses is om dit te laat uitspruit. Dit kan alleen uitspruit in nuwe lewe, takkies, blare en vrug wanneer die ou dooie goed, ou oortuigings, ou godsdienstige idees en praktyke en ou lewensbeskouinge weggesnoei word uit ons lewens.

Dan begin ons soos ʼn wyse man ons lewens bou op die fondament, en daai fondament is Christus.

Hierdie snoeiproses, hierdie ontslae raak van die ou goed in ons lewens, godsdiens en filosofieë uit die wêreld, dít is fondasie lê en dit vat soms tyd. Dikwels is ons so oorhaastig om die dak op te sit en die huis binne reg te kry, dat ons vergeet dat die fondasie eers reg gelê moet word. Stewig moet wees. Dat baie detail, tyd en aandag in die fondasie lê gedeelte van ons bouproses moet ingaan.

En hier is die grootste uitdaging. Jy kan dit nie sien nie! Die fondasie is nie mooi, ge-”window shop” nie. Dit is dikwels lelik en grof en onaansienlik en weggesteek. Maar dit is hier waar die gebou se sterkte lê.

Moet dus nie dat mense, of die kerk of die wêreld jou manipuleer wanneer God besig is met jou fondasie in Sy snoeiproses nie. Op die regte tyd, sal jou huis die vrug dra waarvoor dit gebou en geplant word.


Sondag 17 Januarie 2016

Raak ontslae van dooie hout



Twee jaar terug stap ek deur ʼn wingerd vir ʼn paar dae tydens snoeityd. En God begin met my ʼn pad stap wat teen dié tyd reeds baie dinge in my lewe verander het en in die toekoms ʼn betekenisvolle funksie in my bediening gaan vervul.

In Johannes 15 kom gee Jesus een van die 12 Ek Is uitsprake wat ons in Johannes kry. Met die Ek Is uitspraak kom sê Jesus nie net dat Hy en God een is nie, maar Hy kom wys God se karakter direk aan ons en wie ons gevolglik IN Hom is.

Jesus sê: “Ek IS die wingerdstok, en julle IS die lote.”

Wat ʼn gedagte. Maar ek gaan nie vanaand of in die toekoms hier te veel hierby stilstaan nie. Dit sal in ander reekse in die kerk bespreek en gepreek word.

Die gedeelte waarby ek wil uitkom is vers 2-4. Hier kom verduidelik Jesus dat dooie hout uitgesny word en dat lote wat vrug dra, gesnoei word sodat dit beter vrug kan dra. Vrug wat alleen moontlik is wanneer die loot aan die wingerdstok vas is.

Snoei. Dikwels in ons persepsie daarvan ʼn seer proses. In die Westerse konteks al meer ʼn probleem vir mense om te dink dat daar ʼn proses van dissipline kan en mag wees.

Snoei is nié straf nie. Ons het ʼn wanpersepsie tussen straf en dissipline.

Sonder dissipline val alles inmekaar – jou huis en gesin, die land, die werksplek en ook die kerk. Elke liewe stukkie samelewingsorde sal inmekaar stort indien daar nie dissipline, rigtingwysers en grense is nie.

Straf daarteenoor is die doelbewuste teregwysing wanneer verkeerd gedoen word en die gevolge vir verkeerde dade gedra moet word. Met ander woorde as iemand steel, dan moet hy gestraf word. Die gevolge vir verkeerde dade.

Maar dissipline is die stap daarvoor. Dissipline is wanneer iemand onderrig word in die beter manier van doen. Dis rigtinggewend en ʼn rigtingwyser.

Liefde impliseer dissipline. Die Woord sê duidelik ʼn ouer wat sy kind lief het, maak die kind groot met dissipline. Om dissipline te versaak, is nie net om jou ouerlike plig te versuim nie, dis om liefdeloos te wees en jou kind ʼn groot onreg aan te doen.

God dissiplineer ook Sy kinders. Hoekom? Want Hy het die beste vir ons in gedagte. Juis omdat Hy reeds vir ons alles kom gee het en Sy liefde gewys het deur vir ons te sterf. Ons het reeds die lewe. Wanneer ons begin leef vanuit ʼn verloorders, sondige mindset in plaas van die lewe in oorvloed wat ons IN Christus het, dan sal ons die gevolge daarvan dra.

Nou kom sê Jesus dat God sny dooie hout uit en lote reg met ʼn bepaalde doel.
Het jy nou al na ʼn onbesnoeide wingerd gekyk? Dit is chaoties en die gevolg is dat die ding, indien dit wel enige vrug dra, maar sulke ou pieperige korreltjies is.

As ons vanuit hierdie skeefgetrekte Westerse wêreldse oogpunt wil funksioneer, dan sê mense: “Nee maar ons kan nie die wingerd seer maak nie. Dit is wreed om hom te sny. Hy moet toegelaat word om self te besluit hoe hy die beste kan vrug dra. Los hom net, iewers sal hy besef hy moet vrug dra, want dit is sy doel.”

Dit is belaglik. Die boer moet inklim en sy taak verrig. Alles wat dood en oneffektief is moet uit sodat die wingerd sy doel kan vervul, naamlik vrug dra.

In ons lewens is daar ook baie dooie hout of dooie lote of lote wat so bietjie versorging en aandag nodig het. Dooie punte wat groei en vrugdra belemmer.

Aan die begin van ʼn nuwe jaar is dit nodig dat hierdie ou en dooie hout en lote moet uit, sodat daar vrug na vore kan kom.

Daar is verskeie sulke dooie goed in ons lewens waaraan ons dikwels vashou.
In die volgende paar weke wil ek oor verskillende fasette van dooie hout in die meeste van die onderskeie blogs skryf.

Hier gaan ek praat oor die ou hout of lote wat ons geestelike vrug verhinder of swak maak. En so ook oor ons psigiese en emosionele houte, liggaamlik en kerklik.
Een so ou hout wat ons kan keer is uitgediende geloofsisteme of noem dit dogmas of oortuigings as jy wil.

Dit is sekere leerstellings of wettiese idees of morele oortuigings wat nie die waarheid is van wat die Woord sê nie of wat in die tyd waarin ons leef uitgedien is.

Ons almal het byvoorbeeld grootgeword met sekere sulke baie sterk oortuigings wat op ons afgedruk is. Ek gaan nie hier nou enige voorbeelde noem nie. Ons almal weet van daai ding wat elke nou en dan in jou gewete kop uitsteek en jou dalk laat skuldig voel of opstandig maak. Diep in jou en met jou kognitiewe brein sê jy vir jouself ek glo of aanvaar dit nie meer nie. Dit is nie die waarheid nie. Ek het nou ʼn ander oortuiging. En tog laat die ding jou skuldig voel of sit jou terug sodat jy nie kan lewe nie.

Of dit kan wees dat jy in ʼn verhouding of huwelik was waar sekere geestelike goed met of sonder emosionele en liggaamlike mishandeling en manipulasie op jou afgedwing is en as gevolg van die emosionele trauma het daardie goed in jou ʼn wortel gegroei wat jou keer om waarlik te lewe in geestelike oorvloed.

Dit kan ook wees dat jy betrokke was by ʼn kerk, sekte of prediker wat op dieselfde wyse geestelike onwaarhede so in jou ingeplant het en jou emosioneel met manipulasie gevange gehou het, maar later het jy besef dit is nie die evangelie van Jesus nie.

Dit kan selfs in ʼn werkplek gebeur het. Werkgewers wat vreeslik godsdienstig is en onwaarhede op hul werkers afdwing. Of dalk ʼn slegte vriendskap.

Hierdie ding, hierdie wortel bly jou verhinder om vorentoe te beweeg in jou lewe. Dit keer jou geestelike groei, jou verhouding met God en jou vryheid en lewe in Jesus.
Dit is tyd om God toe te laat om van dié dooie hout en lote in jou geestelik lewe ontslae te raak.

Indien nodig, bely dit of dit wat daartoe gelei het dat dit in jou lewe ingekom het.
Gee dit vir God en aanvaar Sy vergifnis wat Hy reeds in Christus vir jou kom gee het en vra Hom om dit uit jou lewe, jou geestelike lewe en uit jou onderbewuste vergoed te verwyder.

Aanvaar en bely die waarheid elke dag in jou gebedstyd en begin leef in die vrymakende waarheid van Christus.

Dalk het God dit dalk uitgesny, maar jy aanvaar dit nie, of voel skuldig as iets gebeur of jy met sekere mense in aanraking kom, en dan vat jy weer daai dooie hout terug. Los dit finaal by God se voete soos ek hierbo geskryf het.

En dan sit jy terug en wag dat die vrug in jou lewe na vore tree. ʼn Lewe van oorvloed wat jou alles gee wat God jou in Christus kom gee het en sien Sy liefde deur jou werk en na jou kant toe kom deur jou geestelike familie om jou.


Sondag 10 Januarie 2016

Wanneer die storms en stilte in jou lewe kom


Saterdag 9 Januarie 2016 tref ʼn storm die Wes-Rand en trek deur tot verby Hartbeespoortdam.

Behalwe een slag in Kaapstad waar ek 10 sentimeter diep in die hael gestaan het ná ʼn haelstorm wat almal gedink het dit het in die stad gesneeu, het ek nog nooit só iets beleef nie.

Ek was letterlik net in die huis toe begin die hael val. Dit het soos ʼn dreuning oor die aarde aangekom. Hoewel dit seker ʼn goeie 20 minute aangehou het, het dit in ʼn kwessie van ʼn paar minute groot skade aangerig.

Ons is net baie dankbaar dat ons nie groter skade gehad het nie. Behalwe dat daar niks van die tuin oor is nie, was die skade relatief min. Toe ek later uitstap, het ek ietsie verstaan van hoe ʼn boer moet voel as hy of sy uitstap en oor ʼn weggeslaande landery moet kyk.

Maar die skade rondom was verbysterend. Die winkelsentrum se dak wat ingeval het. Oorkant by die kerk het ʼn klein saaltjie inmekaar gestort. Letterlik 24 uur ná die haelstorm het die hael daar nog meer as ʼn meter dik in ʼn soliede blok ys gelê.

In die daaropvolgende donderstorm gaan die krag af vir byna 24 uur. Wat my egter opgeval het ná die aanhoudende gelooi van sirenes later die aand asook die storm bedaar het, was die stilte saam met die algehele duisternis. Buite was dit pikgietswart donker. Behalwe enkele huise met kragopwekkers, het daar nêrens ʼn enkele lig geskyn nie. En ʼn verbasende stilte vir die stad.

Die stilte ná die storm.

Dié hele gebeure het my diep laat nadink oor die lewe. En veral ná gister se blog, Tien punte hoe my kerkpaadjie vorentoe lyk.

Die storm het my baie aan my lewe laat dink. En die storms wat oor ons lewenspaadjie kom.

Maar nie net die storms nie, ook daai tye van stilte. Tye wanneer jy wonder waar God is? Wanneer jy wonder wanneer gaan jy iets hoor? Wanneer jy wonder hoekom hierdie storm jou dwars klap en jy niks, maar niks hoor nie.

Tye wanneer jy helaas soos Job op die ashoop van die lewe beland. Platgeslaan, oorbluf en verbysterd. Wanneer dit nie net een krisis is nie, maar die aanslae nie ophou nie. Wanneer die een ná die ander teen jou aanstorm soos met springgety wanneer die golwe so vinnig op mekaar volg en teen die pad of huis se muur breek, dat jy wonder of daar ooit verligting gaan kom. Daai tye wanneer tot jou vriende teen jou opstaan en jou integriteit en verhouding met God in twyfel trek soos met Job.

Hierdie storm het my egter aan Elia laat dink.

Grootste profeet van alle tye. Man van God wat onverskrokke was in woord en daad. Elia wat nie bang was vir ʼn Jesebel wat die volk verlei het na afgode toe nie en alles in die stryd gewerp het om van hom ontslae te raak nie.

Elia staan op en vat 400 Baalpriesters man alleen aan en wys aan die volk dat die Here alleen God is. Maar dán bars die storm om sy kop los.

Maar, in die midde van dit alles, neem God vir Elia na ʼn grot en wys aan Hom dat Hy in die stilte is.

Vóór hierdie gebeure sit Elia vir ʼn jaar by die spruit Krit omdat hy vlug vir sy lewe omdat Asaf en sy vrou Jesebel hom wil doodmaak omdat hy hulle aanspreek oor hul afgodsdiens en die droogte in die land aankondig weens hulle afgodediens.
In hierdie storm, bring God vir Elia na ʼn plek van stilte.  Daarna gaan bly hy by die weduwee. Nóg stilte tyd.

Totdat die groot dag van konfrontasie aanbreek.

My punt waar ek wil kom is: Elia beleef stilte en storm, en storm en stilte. Inmekaar geweefde kontradiksies.

Ná die gebeure op die Karmelberg word Elia na Horeb geneem, die plek van ontmoeting met God, dít nadat hy onder die braambos gaan sit en wens om dood te gaan. Die storm breek weer los te midde van God se grootse vertoon van wie Hy is.
Hier op die berg word Elia in ʼn grot gesit. En God praat met Elia.

God wys vir Hom dat Hy nie in die vertoon is nie, nie in die skouspelagtige en vermaaklike en gewilde nie. Ook nie in die gemak en in die kitsoplossings nie.
God is in die stilte. In die sagte gesuis, daar is God. In die stilte, daar is God. Jy moet mooi luister. Fyn luister om Sy stem te hoor.

Daar waar jy worstel oor die storms. Daar waar jy soms nie verstaan hoekom God stil is te midde van die storm nie.

Vir my is dit al hoe meer ʼn besef dat God se genade en liefde daarin na vore kom dat Hy meer geïnteresseerd is in ons karaktervorming. In Ons verhouding met Hom, ons afhanklikheid van Hom en vertroue op Hom. Ons groei in alle fasette van ons menswees, siel, liggaam en gees – ja God is nie in jou godsdienstige betrokkenheid en aksies geïnteresseerd nie – Hy is in jou lewe geïnteresseerd. Dít is verhouding.

In Stilte...nie in ʼn geskreeu, ʼn gebrul of gedonder nie. Nier in groot vertoon en magtige werke nie.

Ek weet nie van jou nie. Of jy al in ʼn verhouding was waar dit ʼn “screaming contest” is nie. In skaamte moet ek erken ek was daar. Teen my karakter en persoonlikheid in. Maar ek was. En dit is nié lekker nie. Geen mens kan aan my sê dit is hoe hy of sy sy verhoudings verkies nie. Om heeltyd in konflik te wees, opgewerkte emosies, omgekrapte, slegte hormone wat jou lewe oorheers. Niemand wil in konstante woede leef nie.

Ons almal soek ʼn rustige verhouding waar stilte nie ʼn bedreiging is nie. Waar daar in stilte ʼn stille verstaan is van die ander persoon. ʼn Aanvaarding van wie jy is. ʼn Ondersteuning in alle fasette van jou lewe en waarmee hy besig. ʼn Stille liefdesverhouding van diepe omgee en erbarming.

Só ʼn verhouding van stilte, dít is die grootste seëning.

So wat beteken dit alles vir ons?

Hier aan die begin van 2016 kan ons een ding weet. Die storms gaan kom. Dit het hier fisiek in die natuurlike gebeur nog skaars nadat die nuwe jaar begin het. Dis nie profeties nie. Dis die lewe. Daar gaan storms kom. Dit kan ook wees dat jy in stilte sit. Dit kan wees dat die storm ná die stilte kom of dat God doodeenvoudig ná die storm vir jou sê: ‘Wees stil en vertrou.”

Die uitdaging is om te midde van die storm net stil te wees en te weet, God is in beheer. My vertroue is op Hom en Hom alleen. Om nie te skarrel nie, maar te vertrou.

Dít vra ware intieme verhouding met God. As ons nie tye van stilte in ons lewens het te midde van hierdie malle gejaag nie, as ons nie seker maak ons weet en ken die rots waarop ons staan nie, gaan die storms kom en jy gaan sukkel om in stilte te vertrou. Dan gaan jou emosies oorneem.

As Jesus sê: “Soek eers die koninkryk en ál die ander dinge sal vir jou bygevoeg word,” is dit presies wat Hy bedoel.

God fluister in stilte. Dít is waar jy Sy stem sal hoor.

Voordat jy nie vir God in stilte leer ken het nie, want Hy is nie in die lawaai en geskreeu en gejaag nie, sal jy moeilik in die storm die koninkryk soek. Met ander woorde die beginsel van vertroue omdat jy God ken. Weet wie God is.

Godsdiens kan dit nie vir jou gee nie. Verhouding doen. En dan sal jy al die antwoorde kry, die deurbraak, die oorwinning. Dan sal dit toegevoeg word.

Dit is in teenstelling met die wêreld waar emosies en oproer, vrees en angs oorheers. Wanneer die storm kom, kom die persoon wat wêrelds georiënteerd is reaksie, en raak beangs en angstig.

Koninkryksburgers reageer anders, want hulle is in stille vertroue op God. Die storm bedreig jou nie, want God is daar. Weliswaar dalk stil, maar Hy is daar.

My gebed is dat jou storms in 2016 jou sal leer wat stilte is.

Sondag 03 Januarie 2016

Leef in God se Shalom in 2016


Shalom Aleichem.
In Afrikaans vertaal ons dit gewoonlik met: “Vrede vir jou.”

In ou Israel het die volk mekaar met dié groet gegroet.

Ek sit nou die laaste paar maande en top hieroor. Eintlik maar in my wyer denke oor daardie eksistensiële worsteling van wat soek ons in hierdie lewe. Daarmee saam met my effense gevoel van antagonisme teen ʼn wêreldse waardesisteem wat alles in happiness wil indruk. Of geluk. Asof dit die hoogste enlightment of verligting is wat die mens kan bereik. Om gelukkig te wees.

Maar ek wil nie hieroor vandag skryf nie. Net noem dat my konklusie, veral vanuit koninkrykwaardesisteem, daar baie meer  is om na te strewe en in die lewe te verkry as happiness.

Só lees ek nou die dag  Francois du Toit se vertaling van die woord Shalom in die Mirror Bible raak. En ʼn wêreld gaan vir my oop.

Dit laat my op die plek besluit, “dít is my strewe vir 2016 en my wens vir almal.”

Dat jy God se Shalom sal beleef. In elke aspek van jou lewe – siel, liggaam en gees. In ál agt areas van jou lewe. In jou beginsels en waardesisteme. Dat jou paradigma vir dié jaar sal draai om God se Shalom in jou lewe.

Ja dat jy die rykdom daarvan sal beleef, want dít is wat God vir ons in Jesus kom gee het en die verstaan en internalisering daarvan is wat ons jaar sal positief anders maak.

Ek gaan dit leef. Elke dag. Met bewustheid (mindfulness). Ek sal en gaan God se volheid myne maak in alles soos hierbo genoem. Nooit weer sal my lewe dieselfde wees nie. My hele lewe en my verwagting vir 2016 verander onherroeplik met die verstaan hiervan.

Wat is God se Shalom?

Ek wil nie nou op die diep teologiese verklaring ingaan nie. Net so vinnige agtergrond. In boek Hebreërs  verduidelik die skrywer die verbinding tussen Abraham en Melgisedek, ʼn priester volgens ʼn ander orde en uit dié priesterorde kom Jesus se priesterlike funksie – met ander woorde om die mens nou verewig met God te versoen.

In Hebreërs 7:2 noem hy die funksies van Melgisedek soos wat in sy name na vore kom en hy noem hom die Koning van Geregtigheid (wat dus die verhouding met God en mens herstel) en die Koning van Vrede.

Die Griekse woord wat hier gebruik word is eirene wat letterlik beteken om saam te voeg soos in houtwerk wanneer twee hoeke in een gevoeg word. Waar dit tot rus kom.
Met ander woorde, Christus kom om ons met God te eirene. Weer in eenheid te bring. Tot rus te bring in God.

Die Hebreeuse woord is Shalom, wat beteken om kompleet of volledig te wees, heelheid en vriendskap, asook vrede, voorspoed, welvaart en gesondheid.  

Wanneer die Jode mekaar dus groet met die woorde: “Shalom Liga”, beteken dit baie meer as ons Afrikaanse en Westerse verstaan van vrede.

Nee, hulle wens mekaar volkomendheid toe. Dat alles in elke aspek van sy lewe perfek en in harmonie sal wees. In jou siel, met ander woorde jou emosionele welstand en  jou verstandelike vermoëns. In jou liggaam, met ander woorde jou gesondheid, finansiële welvaart en liggaamlike vermoëns. In jou gees, met ander woorde dat jy die volheid van God se Gees in die volheid van ʼn harmoniese verhouding met PAPPA Vader sal leef. In jou verhoudings met alle mense om jou - dat jy in vrede en goeie gebalanseerde verhoudings sal wees waar jy jouself eerlik sonder pretensie kan uitleef, maar ook vrylik kan ontvang.

 En nou, hier is die kern van dit alles. Volgens Hebreërs en die boodskap van die evangelie in die hele Nuwe Testament, HET ons dit in Christus reeds ontvang.

God se volkome kompleetheid, volledigheid, heelheid en vriendskap.

Daarom wens ek jou toe om God se Shalom  in 2016 te leef.

Nie “mag: jy nie. Nie om dit net dalk hopelik te ervaar nie.

Wat ek jou toewens is dat jy deur die besef van WIE JY IS IN CHRSITUS. Dat jy in God se Shalom IS.

Dat jy, deur jou hele lewe daagliks daarom te vernuwe, ʼn ongekende 2016 sal leef.

Omdat ons IS, kan ons begin om alles, elke dag, daaromheen in te rig.

In hierdie jaar kán ons elke aspek van ons lewens onherroeplik verander omdat ons reeds in God se Shalom is, en nou kan ons ons lewens, ons gedagtes en ons emosies en woorde daaraan onderwerp en ʼn lewe van oorvloed kies en leef!

My besluit vir myself en my wens vir jou is dus nie net ʼn mooi toewensing met goed gekose woorde, ʼn sprokiesagtige lugkasteel of lugspieëling waarop ons met ʼn kinderlike en idilliese hoop maar net oor goed voel sonder oortuiging dat dit gaan waar word nie.

Nee, dit IS  ʼn werklikheid wat onsself daagliks kan kies én leef.


ʼn Wonderlike Shalom 2016 vir elkeen!!!