Woensdag 04 Februarie 2015

Dié loper sluit alles oop



ʼn Loper is ʼn wonderlike ding. As kind het ek altyd gefantaseer dat as ek net ʼn loper in die hande kan kry, sal die hele wêreld letterlik vir my oopgesluit word. Baie jare later toe ek as koster by ʼn kerk werk en met dié wonder van ʼn kinderfantasie in my hand staan, het ek ontdek dat ʼn loper toe nie regtig ʼn magiese krag het nie. Met die regte loper wat op ʼn sekere nommer slot pas, kan jy wel ʼn klompie deure oopsluit, maar dit sluit beslis nie ál die deure elke keer oop nie.

Kinderfantasieë is ongelooflike kragtige goed. As ʼn mens dit mooi gaan bestudeer kom jy agter dat binne baie van dié fantasieë lê die waarheid oor wie jy is, jou diepste passie, dikwels opgesluit. Nou nie letterlik as die polisieman of verpleegster dalk nie, maar iets binne jou wat ʼn begeerte na iets in dié beroepe laat opvlam. Dit laat jou ervaar wat jou werklike potensiaal eintlik is. Daar is geen beperkinge nie. Ongelukkig sorg die lewe se klappe dikwels dat ʼn mens of van dié paadjie afdwaal óf dat jy nie meer in jouself glo nie.

Jesus het ons kom leer wat die loper is wat wel alle deure na ʼn lewe van oorvloed oopsluit. En dié spesifieke loper het wel die vermoë om alle deure oop te sluit as jy dit gebruik.

Wanneer jy nie ʼn deur kan oopkry nie, of jou sleutel nie wil pas nie, is dit omdat jy met die verkeerde sleutel in jou hand staan. Die wonder van die loper is dat dit wel alle deure oopsluit sodra jy dit in jou hand het en reg gebruik.

Die meeste “Christene” (ek verkies om eerder te praat van Kinders van God aangesien die woord “Christen” in sy wortel sowel as in vandag se tyd totaal en al ʼn verkeerde betekenis dra en dit was ook nooit die naam wat Jesus aan Sy volgelinge gegee het nie) leef ongelukkig in meeste areas in hul lewe nie ʼn lewe van oorvloed nie, maar van verloor. En veral in hul gees, die rede waarom die res van ons lewens dikwels so donker is.

Nou voor iemand dink dit is ʼn beskuldiging of ʼn aanklag, allermins. Wat ek sê is dat dit wat Jesus vir Sy kerk en Sy kinders bedoel het, is net soveel groter, soveel ryker en só ʼn ongelooflike lewe van oorvloed waarop ons uitmis. En laat ek bysê, ek dink daar is bitter min Kinders van God wat werklik op alle vlakke in alle areas van hul lewe alles ervaar wat God vir hulle in gedagte het. Dit is deel van ons lewensreis. Ekself is nog maar in die begintreë van dié reis, maar dit beteken nie dat dié waarheid van God se Woord nie vasstaan nie. Die krag lê in Hom, nie in ons nie.

Die loper wat Jesus vir Sy kerk kom gee het om ʼn lewe van oorvloed op alle vlakke van hul lewe (siel, liggaam en gees) te kom ontsluit, is afhanklikheid.

Jesus se bediening het, soos deur Matteus opgeteken, in die bergpredikasie begin met dié woorde (5:3) - “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel."

Ekself het vir baie lank ʼn wanpersepsie gehad oor wat afhanklikheid beteken. Ek het altyd gedink dit het net te doen met mense wat min geld het of in armoede leef. Baie minder as die bietjie wat ek het, daarom kan nie eers ek afhanklik wees nie.

Maar toe ontdek ek afhanklikheid het niks te doen met jou skrapse bankbalans nie. Want of jy nou ʼn bietjie of baie het, jy is van God afhanklik. Die grote van jou bankbalans beteken in der waarheid geen sekuriteit insigself nie. As jy min het, bekommer jy dalk oor daaglikse behoeftes. As jy baie het raak die bekommernis dikwels net soveel meer, veral as die aandelebeurs begin beer-neigings toon.

Bowenal, afhanklikheid het in der waarheid egter nie alles met geld te doen nie, maar met elke aspek en area van jou lewe. Eintlik met jou hele lewe as geheel.

Afhanklikheid beteken dat jy in God se liefde en genade leef. Dit beteken dat jy besef jy kan nie die lewe self leef nie. Dit beteken dat jou aksies kom uit die feit dat jy jou lewensenergie en bestaan uit die bron tap.


Dié loper sluit weliswaar deure in alles oop sodra jy kan konnekteer. Volgende keer meer oor hoe sluit ek deure met die afhanklikheidsloper oop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking