Sondag 28 Februarie 2016

By God is daar ALTYD nuwe lewe


In my byna ʼn halfeeu op hierdie klein blou planeet wat êrens in die grootheid van die heelal rustig en voorspelbaar in sy wentelbaan om sy son wentel, het ek geleer dat die lewe op hierdie aarde bitter min die voorspelbaarheid, rustigheid en vastigheid van sy moeder weerspieël.

Nié dat dit is hoe God dit geskep het nie. In Sy skeppingswerk “was alles goed.” Volmaak. En die lewe wat vir die mens, Adam, bestem was, was goed, voorspelbaar en rustig.

Maar omdat God een gemaak het as Sy verteenwoordiger, as Sy beeld, het die mens ʼn keuse gekry. En soos wat hy in ál die eeue en millennia daarna bewys het, maak hy dikwels die verkeerde keuses. Soveel so dat die lewe aan die binnekant van hierdie planeet, onder sy atmosfeerlaag, alles behalwe glad verloop.

Ons sien dit in die natuur, ons sien dit in ouderdom, ons sien dit in gebrokenheid, siekte, stukkende verhoudings en helaas, ons gebroke verhouding met God.
Maar genadiglik los God ons nie daar nie. In Sy genade kom vat Hy ʼn volk, maar ál Sy pogings blyk dit dat kinders sal kinders bly. Elke reël, elke riglyn, elke liefdesdaad, leiding en vertroosting help weliswaar niks om die mens weer in ere met God te herstel totdat Hy ten einde laaste van Sy troon afklim en in die persoon van Jesus, die Christus of Messias, kom mens word nie.

Dit kos Hom, God self, om die dood wat die mens gekies het in die sonde, deur te gaan om weer lewe op hierdie aarde, en hierna, te bring. En daarmee verander God die geskiedenis van hierdie planeet vir ewig.

Nou is daar lewe beskikbaar, maar dit kos dood. Dood aan hierdie liggaam op hierdie aarde om die nuwe, verheerlikte liggaam te kan aantrek in ewige volmaaktheid. Dood in jou eie self, jou ego, of eie ek, om die lewe wat in God is te kan ontdek en geniet. ʼn Zoë lewe. ʼn Lewe van oorvloed IN Christus. Nié werke, goeie dade, godsdienstige of ander spirituele ritueel, kan jou lewe gee nie. Alleen ʼn keuse om te sterf en wedergebore te raak.

Maar, selfs al het ons zoë lewe IN Christus, is ons steeds deel van en blootgestel aan die storms en dood wat op hierdie aarde woed.

En so gebeur dit soms dat ons deur só ʼn storm, of dikwels storms, in ons lewens getref word. Soms in so ʼn mate dat dit voel of daar geen hoop, geen uitkoms en weliswaar geen lewe meer oor is in onsself nie.

Dit kan kom in die vorm van siekte of ander liggaamlike probleme. Dit kan kom dalk in die vorm van psigiese ongesteldheid. Soms tref finansiële verlies of moeilikheid jou. Dalk sit jy sommer net doodeenvoudig sonder geld. Dit kom dalk in die vorm van ʼn verhoudings wat skeefloop of nie wil uitwerk nie. Of dalk mense wat jou teleurstel of skade aandoen. Dalk het jy uit jou pad gegaan om iemand te help en al wat na jou kant toe kom, is moeilikheid en verlies.

Ag die lys kan bladsye lank wees, maar ek is seker jy weet en ervaar dalk waarvan ek praat.

Só gaan ekself al ʼn geruime tyd deur baie moeilike tye met moeilike besluite wat geneem moet word. Besluite wat my zoë kwaliteit lewe die volgende half- millennium op hierdie blou planeet drasties kan bepaal.

En só stap ek een oggend uit in die tuin hier by my tydelike woning in die Gemora-provinsie.  Ek worstel met myself, my gedagtes, my emosies en met God.
Maar God praat egter met my in die oggendstilte in die duidelike fluisterstem van die Heilige Gees.

So paar weke gelede is ons in dié deel van die ou dorpie hier getref deur ʼn verwoestende haelstorm. Later vind ek uit dit was toe nie een haelstorm nie, maar twee wat mekaar toe nou hier bo-oor ons gekruis het. Miljoene rande se skade is in ʼn kwessie van 20 minute aangeteken.

Ek het destyds nog hieroor geblog - Wanneer die storms en stilte in jou lewe kom.

Hoewel ons baie dankbaar is dat ons, in vergelyking met baie mense rondom ons, relatief min skade gely het, was daar van ons eie tuin weinig oor. Alles is afgeslaan. Sommige plante tot teen die grond. Blare, blomme en takke is weggeslaan.
In die week vóór die haelstorm het ek nog in die tuin geloop en gedink as die droogte nou voortduur, gaan daar nie veel oor wees ná die winter nie. Dit was so droog dat alles vaal was, besig om te sterf en kaal.

Ná die haelstorm die Saterdagmiddag hier in die begin van Januarie, was daar letterlik niks van die tuin oor nie.

Só stap ek die oggend vroeg in die tuin en praat met God oor die dood wat in my gemoed wil kom nes skrop. En die Heilige Gees fluister hoorbaar in my oor: “Kyk om jou rond. Wat sien jy?”

Tot my verbasing ontdek ek LEWE. Ja, waar daar dood en verwoesting was, is daar nou lewe.

ʼn Groen lushof omring my. Geure vul die lug en maak hul tuis in my reuksintuig. My oog verlustig hom in blomme en bloeisels wat kop uitgesteek het.
En ʼn verwondering tref my toe ek God se fluisterstem in die oggendstilte hoor: ”By My is daar ALTYD nuwe lewe.”

Ja, dit maak nie saak hoe droog jou omstandighede mag lyk, sonder enige hoop of uitkoms nie. Dit maak nie saak of twee of selfs meer storms al jou grond onder jou kom wegspoel het. Of mense die laaste spruitjie lewe kom uitbliksem het nie. Dit maak nie saak of dit, as jy na die fisieke omstandighede om jou kyk, die sogenaamde realiteit, jy in totale uitsiglose moedeloosheid kom vasval het nie.
Selfs in hierdie sondige aardse sisteem, kom gee God ALTYD, totaal uit Sy liefde en genade, weer lewe. Die natuur kom herstel asof daar niks fout was nie. Inteendeel, dit lyk selfs beter soos wat nuwe lewe uitspruit.

En so laat God my besef, daar is ALTYD weer lewe by Hom.

Ek hou die afgelope paar weke aan hierdie boodskap vas. Soms voel dit of donkerte en gate van hopeloosheid my ook wil oorweldig. In die sogenaamde realiteit, sien ek nie hoop, toekoms of lewe nie. Maar God sê Hy is nié die realiteit nie. Hy is nie die droë omstandighede nie. Hy is nie die voos haelgeslaande tuin nie. Hy is God. Hy is hier. Hy is in die toekoms.

En dit laat my asemskep. Moed kry om net weer oor te gee.

Daar is nie ʼn sewe stappe na nuwe lewe IN Christus nie. Daar is nie ʼn formule nie. Die lewe gebeur vanself. Op een of ander misterieuse wyse kom lewe terug in die natuur – afhanklik van God se lewe.

Ons kan ook, net soos die natuur, oorgee en toelaat dat God weer lewe laat uitspruit. HOE weet ek nie, maar DAT. Dit is ʼn feit wat God in SY liefde en genade IN Christus vir ons kom werklik maak.

In Jeremia 29:11 sê God aan Sy volk, midde in die ballingskap: “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.” En wat gebeur, 70 jaar later, byna 2 geslagte later, trek die volk terug na hul eie land.

God gee lewe, ál lyk alles op daardie oomblik na totale hopeloosheid en onmoontlikheid.

Gee oor. Vers 12 tot 14 van dié hoofstuk sê God: “Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind. Julle sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer...”
God laat Homself vind IN Christus. Dalk is die uitkoms nie op daai oomblik sigbaar nie, maar na vier tot ses weke begin die tuin die lewe wys wat reeds toe werksaam geword het. So het die volk nog 70 jaar in ballingskap gesit, maar God het die werk in hulle gedoen wat nodig was.

God is besig in en met jou en jou omstandighede en toekoms, glo Hom, soek Hom en vertrou Hom.

Dit is my enigste hoop en troos in die donkerste, slegste en doodste van tye – By God is daar ALTYD nuwe lewe.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking