Saterdag 24 Januarie 2015

Draai die sleutel


Ek is besig om stil te staan by die sleutel na 'n lewe van oorwinning. Gister het ons gekyk na die feit dat die regte kennis die sleutel is. En dit is natuurlik afhanklikheid van en vertroue in God. Dit is geestelike groei. Die proses van vernuwing. Die aflê van ou gedrag of uittrek van die ou kleed en die aanneem van wie jy IN Christus is - die aantrek van die nuwe kleed. Dit is om jou gedagtes te vernuwe.

Luister wat sê Dawid in Psalm 4. Eers begin hy om te verwys na die krisis, die uitdaging in sy lewe. Die probleem waarmee hy worstel. Ons almal sit met vyande in ons lewe. Dit is nie noodwendig direk in die vorm van 'n mens nie. Dit is dalk net dat dinge verkeerd loop. Of 'n stresvolle werksituasie weens werksdruk of sperdatums of -tye. Dit is nie altyd eers noodwendig slegte dinge nie. Dalk 'n gemaksone. Dalk dat dinge te voorspelbaar geraak het in jou lewe. Dalk net die feit dat die water dalk glad is, maar jy weet ook dat jy eintlik nêrens 'n verskil maak nie.

2Antwoord my wanneer ek roep, my regverdige God! U staan my by in my verknorsing.Wees my genadig en hoor my gebed. 3O mensdom, hoe lank sal julle my goeie naam beklad? Hoe lank sal julle valse beskuldigings maak? Hoe lank sal julle leuens najaag? Sela

Kyk die kontras waaroor Dawid praat. Sy absolute vertroue in 'n regverdige God wat hy persoonlik so intiem ken en weet hom SAL antwoord. In kontras is die onbetroubaarheid van mense wat leuens najaag, vals beskuldig rondslinger en jou skade berokken. 

Maar dan kom die deurbraak!

4Hiervan kan julle seker wees: Die Here het besondere genade aan die getroues bewys. Die Here sal antwoord wanneer ek tot Hom roep.

Jy as 'n kind van PAPPA het 'n besonderse plek by Hom. Dawid het geen twyfel gehad in wie God is nie. Dit bring ons weer terug by ons kennis van God. Baie keer vang ek myself dat my idee van God en wat Hy kan doen heeltemal te klein is. Die probleem lê egter nooit by God nie, maar by ons.
Weer sê Dawid, Hy SAL antwoord wanneer ek tot Hom roep. Daar bestaan nie 'n ding soos 'n onbeantwoorde gebed nie. God antwoord. Punt.

5Moenie sondig as jy ontsteld is nie. Oordink dit in die nag op jou bed en wees rustig. Sela

Paulus sê ook in Efesiërs 4:26 Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, 27en die duiwel so ’n houvas gee nie.

Dit is 'n keuse wat ons maak hoe ons gaan reageer. Reageer ons in sonde of reageer ons in die Gees. Selfdissipline en rustigheid bring dikwels die deurbraak. Oordink die saak in die Gees, nie in die vlees nie. Saam met vergifnis natuurlik.

6Bring die voorgeskrewe offers en vertrou op die Here.

En hier is ons terug by vertroue. Só, hoe hanteer jy jou krisisse? Dinge wat jou onstel? Goed wat verkeerd loop? Mense wat in jou slaai krap? Jy vertrou op God. Deur vertroue op God keer jy 'n "krisis" nek om. Want jy hanteer dit op 'n koninkryks manier. 

Ons bring nie meer fisiek offers nie, ons offers nou is onder andere lofprysing en danksegging. 

Hebreër 13:15Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ’n voortdurende offer van lofprysing aan God – ’n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely.

Wat sê Paulus daaroor?

Kolossense 3:16Laat die rykdom van alles wat Chris­tus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met alle wys­heid moet julle mekaar on­derrig en me­kaar die regte pad wys. Sing met dank­ba­re harte psalms, lofgesange en geesteli­ke liedere tot eer van God. 17Verder, doen al­les – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.


7Baie mense sê:“Wie sal vir ons goeie dinge wys?”Laat u glimlag oor ons skyn, Here!

Wanneer jy in die vlees na goed kyk, lyk dinge hopeloos. Of daar geen uitkoms is nie. Of daar niks goed uit 'n saak kan kom nie. Maar God se glimlag skyn oor ons. Dit dui op Sy guns, Sy liefde en sy nabyheid.  Alleen as jy vertrou omdat jy weet wie Hy is, sal jy Sy glimlag kan sien, maak nie saak hoe sleg of goed dinge in die vlees voorkom nie.

Romeine 8:28En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

8U het vir my meer vreugde verskaf as dié met graan en wyn in oorvloed.

Geen mens of goed kan aan jou gee wat God gee nie. Hy gee ware vreugde. Wanneer ons na mense kyk vir ons uitkoms, al gebruik God mense, dan kyk ons in mense met beperkte bronne vas, al is hulle ook hoe oorvloedig. God gee ware vreugde. Hy bring ware uitkoms. As jy vertrou, kom die uitkoms wat jou hart laat oorloop.

En die gevolg hiervan?

9Ek sal in vrede gaan lê en slaap,want U alleen, o Here, laat my veilig woon.

Jy kan in vrede gaan slaap. Slaap is gewoonlik die eerste plek waar 'n mens se stres, bekommernis, vrees of ongelukkigheid uitkom. Dit is in sulke tye wanneer jy sukkel om te slaap of sleg slaap. Maar wanneer ek in vertroue op God leef, slaap ek rustig. Geen bekommernis in die wêreld nie. In God alleen kan ek veilig woon. God gee vrede en wat meer wil 'n mens hê? (Weereens in teenstelling met hapiness, maar 'n volgende keer meer hieroor!)

'n Lewe van oorvloed, is 'n lewe in vrede! Vrede omdat God my veilig laat woon. Woon dui op 'n vastigheid, 'n plek waar jy rustigheid, oorvloed en vrede het. 'n Lewe van oorvloed word hierdeur gekenmerk. Die vrug daarvan, want jy leef in vertroue op God. Jou lewe word gekenmerk deur 'n lewe van oorvloed, maak nie saak wat die omstandighede is waardeur jy gaan nie.

Draai die sleutel. Leer God ken vir wie Hy is, vertrou op Hom, bring alles in gebed na Hom en leef in die oorwinning.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking