Sondag 03 Januarie 2016

Leef in God se Shalom in 2016


Shalom Aleichem.
In Afrikaans vertaal ons dit gewoonlik met: “Vrede vir jou.”

In ou Israel het die volk mekaar met dié groet gegroet.

Ek sit nou die laaste paar maande en top hieroor. Eintlik maar in my wyer denke oor daardie eksistensiële worsteling van wat soek ons in hierdie lewe. Daarmee saam met my effense gevoel van antagonisme teen ʼn wêreldse waardesisteem wat alles in happiness wil indruk. Of geluk. Asof dit die hoogste enlightment of verligting is wat die mens kan bereik. Om gelukkig te wees.

Maar ek wil nie hieroor vandag skryf nie. Net noem dat my konklusie, veral vanuit koninkrykwaardesisteem, daar baie meer  is om na te strewe en in die lewe te verkry as happiness.

Só lees ek nou die dag  Francois du Toit se vertaling van die woord Shalom in die Mirror Bible raak. En ʼn wêreld gaan vir my oop.

Dit laat my op die plek besluit, “dít is my strewe vir 2016 en my wens vir almal.”

Dat jy God se Shalom sal beleef. In elke aspek van jou lewe – siel, liggaam en gees. In ál agt areas van jou lewe. In jou beginsels en waardesisteme. Dat jou paradigma vir dié jaar sal draai om God se Shalom in jou lewe.

Ja dat jy die rykdom daarvan sal beleef, want dít is wat God vir ons in Jesus kom gee het en die verstaan en internalisering daarvan is wat ons jaar sal positief anders maak.

Ek gaan dit leef. Elke dag. Met bewustheid (mindfulness). Ek sal en gaan God se volheid myne maak in alles soos hierbo genoem. Nooit weer sal my lewe dieselfde wees nie. My hele lewe en my verwagting vir 2016 verander onherroeplik met die verstaan hiervan.

Wat is God se Shalom?

Ek wil nie nou op die diep teologiese verklaring ingaan nie. Net so vinnige agtergrond. In boek Hebreërs  verduidelik die skrywer die verbinding tussen Abraham en Melgisedek, ʼn priester volgens ʼn ander orde en uit dié priesterorde kom Jesus se priesterlike funksie – met ander woorde om die mens nou verewig met God te versoen.

In Hebreërs 7:2 noem hy die funksies van Melgisedek soos wat in sy name na vore kom en hy noem hom die Koning van Geregtigheid (wat dus die verhouding met God en mens herstel) en die Koning van Vrede.

Die Griekse woord wat hier gebruik word is eirene wat letterlik beteken om saam te voeg soos in houtwerk wanneer twee hoeke in een gevoeg word. Waar dit tot rus kom.
Met ander woorde, Christus kom om ons met God te eirene. Weer in eenheid te bring. Tot rus te bring in God.

Die Hebreeuse woord is Shalom, wat beteken om kompleet of volledig te wees, heelheid en vriendskap, asook vrede, voorspoed, welvaart en gesondheid.  

Wanneer die Jode mekaar dus groet met die woorde: “Shalom Liga”, beteken dit baie meer as ons Afrikaanse en Westerse verstaan van vrede.

Nee, hulle wens mekaar volkomendheid toe. Dat alles in elke aspek van sy lewe perfek en in harmonie sal wees. In jou siel, met ander woorde jou emosionele welstand en  jou verstandelike vermoëns. In jou liggaam, met ander woorde jou gesondheid, finansiële welvaart en liggaamlike vermoëns. In jou gees, met ander woorde dat jy die volheid van God se Gees in die volheid van ʼn harmoniese verhouding met PAPPA Vader sal leef. In jou verhoudings met alle mense om jou - dat jy in vrede en goeie gebalanseerde verhoudings sal wees waar jy jouself eerlik sonder pretensie kan uitleef, maar ook vrylik kan ontvang.

 En nou, hier is die kern van dit alles. Volgens Hebreërs en die boodskap van die evangelie in die hele Nuwe Testament, HET ons dit in Christus reeds ontvang.

God se volkome kompleetheid, volledigheid, heelheid en vriendskap.

Daarom wens ek jou toe om God se Shalom  in 2016 te leef.

Nie “mag: jy nie. Nie om dit net dalk hopelik te ervaar nie.

Wat ek jou toewens is dat jy deur die besef van WIE JY IS IN CHRSITUS. Dat jy in God se Shalom IS.

Dat jy, deur jou hele lewe daagliks daarom te vernuwe, ʼn ongekende 2016 sal leef.

Omdat ons IS, kan ons begin om alles, elke dag, daaromheen in te rig.

In hierdie jaar kán ons elke aspek van ons lewens onherroeplik verander omdat ons reeds in God se Shalom is, en nou kan ons ons lewens, ons gedagtes en ons emosies en woorde daaraan onderwerp en ʼn lewe van oorvloed kies en leef!

My besluit vir myself en my wens vir jou is dus nie net ʼn mooi toewensing met goed gekose woorde, ʼn sprokiesagtige lugkasteel of lugspieëling waarop ons met ʼn kinderlike en idilliese hoop maar net oor goed voel sonder oortuiging dat dit gaan waar word nie.

Nee, dit IS  ʼn werklikheid wat onsself daagliks kan kies én leef.


ʼn Wonderlike Shalom 2016 vir elkeen!!! 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking