Sondag 17 Januarie 2016

Raak ontslae van dooie hout



Twee jaar terug stap ek deur ʼn wingerd vir ʼn paar dae tydens snoeityd. En God begin met my ʼn pad stap wat teen dié tyd reeds baie dinge in my lewe verander het en in die toekoms ʼn betekenisvolle funksie in my bediening gaan vervul.

In Johannes 15 kom gee Jesus een van die 12 Ek Is uitsprake wat ons in Johannes kry. Met die Ek Is uitspraak kom sê Jesus nie net dat Hy en God een is nie, maar Hy kom wys God se karakter direk aan ons en wie ons gevolglik IN Hom is.

Jesus sê: “Ek IS die wingerdstok, en julle IS die lote.”

Wat ʼn gedagte. Maar ek gaan nie vanaand of in die toekoms hier te veel hierby stilstaan nie. Dit sal in ander reekse in die kerk bespreek en gepreek word.

Die gedeelte waarby ek wil uitkom is vers 2-4. Hier kom verduidelik Jesus dat dooie hout uitgesny word en dat lote wat vrug dra, gesnoei word sodat dit beter vrug kan dra. Vrug wat alleen moontlik is wanneer die loot aan die wingerdstok vas is.

Snoei. Dikwels in ons persepsie daarvan ʼn seer proses. In die Westerse konteks al meer ʼn probleem vir mense om te dink dat daar ʼn proses van dissipline kan en mag wees.

Snoei is nié straf nie. Ons het ʼn wanpersepsie tussen straf en dissipline.

Sonder dissipline val alles inmekaar – jou huis en gesin, die land, die werksplek en ook die kerk. Elke liewe stukkie samelewingsorde sal inmekaar stort indien daar nie dissipline, rigtingwysers en grense is nie.

Straf daarteenoor is die doelbewuste teregwysing wanneer verkeerd gedoen word en die gevolge vir verkeerde dade gedra moet word. Met ander woorde as iemand steel, dan moet hy gestraf word. Die gevolge vir verkeerde dade.

Maar dissipline is die stap daarvoor. Dissipline is wanneer iemand onderrig word in die beter manier van doen. Dis rigtinggewend en ʼn rigtingwyser.

Liefde impliseer dissipline. Die Woord sê duidelik ʼn ouer wat sy kind lief het, maak die kind groot met dissipline. Om dissipline te versaak, is nie net om jou ouerlike plig te versuim nie, dis om liefdeloos te wees en jou kind ʼn groot onreg aan te doen.

God dissiplineer ook Sy kinders. Hoekom? Want Hy het die beste vir ons in gedagte. Juis omdat Hy reeds vir ons alles kom gee het en Sy liefde gewys het deur vir ons te sterf. Ons het reeds die lewe. Wanneer ons begin leef vanuit ʼn verloorders, sondige mindset in plaas van die lewe in oorvloed wat ons IN Christus het, dan sal ons die gevolge daarvan dra.

Nou kom sê Jesus dat God sny dooie hout uit en lote reg met ʼn bepaalde doel.
Het jy nou al na ʼn onbesnoeide wingerd gekyk? Dit is chaoties en die gevolg is dat die ding, indien dit wel enige vrug dra, maar sulke ou pieperige korreltjies is.

As ons vanuit hierdie skeefgetrekte Westerse wêreldse oogpunt wil funksioneer, dan sê mense: “Nee maar ons kan nie die wingerd seer maak nie. Dit is wreed om hom te sny. Hy moet toegelaat word om self te besluit hoe hy die beste kan vrug dra. Los hom net, iewers sal hy besef hy moet vrug dra, want dit is sy doel.”

Dit is belaglik. Die boer moet inklim en sy taak verrig. Alles wat dood en oneffektief is moet uit sodat die wingerd sy doel kan vervul, naamlik vrug dra.

In ons lewens is daar ook baie dooie hout of dooie lote of lote wat so bietjie versorging en aandag nodig het. Dooie punte wat groei en vrugdra belemmer.

Aan die begin van ʼn nuwe jaar is dit nodig dat hierdie ou en dooie hout en lote moet uit, sodat daar vrug na vore kan kom.

Daar is verskeie sulke dooie goed in ons lewens waaraan ons dikwels vashou.
In die volgende paar weke wil ek oor verskillende fasette van dooie hout in die meeste van die onderskeie blogs skryf.

Hier gaan ek praat oor die ou hout of lote wat ons geestelike vrug verhinder of swak maak. En so ook oor ons psigiese en emosionele houte, liggaamlik en kerklik.
Een so ou hout wat ons kan keer is uitgediende geloofsisteme of noem dit dogmas of oortuigings as jy wil.

Dit is sekere leerstellings of wettiese idees of morele oortuigings wat nie die waarheid is van wat die Woord sê nie of wat in die tyd waarin ons leef uitgedien is.

Ons almal het byvoorbeeld grootgeword met sekere sulke baie sterk oortuigings wat op ons afgedruk is. Ek gaan nie hier nou enige voorbeelde noem nie. Ons almal weet van daai ding wat elke nou en dan in jou gewete kop uitsteek en jou dalk laat skuldig voel of opstandig maak. Diep in jou en met jou kognitiewe brein sê jy vir jouself ek glo of aanvaar dit nie meer nie. Dit is nie die waarheid nie. Ek het nou ʼn ander oortuiging. En tog laat die ding jou skuldig voel of sit jou terug sodat jy nie kan lewe nie.

Of dit kan wees dat jy in ʼn verhouding of huwelik was waar sekere geestelike goed met of sonder emosionele en liggaamlike mishandeling en manipulasie op jou afgedwing is en as gevolg van die emosionele trauma het daardie goed in jou ʼn wortel gegroei wat jou keer om waarlik te lewe in geestelike oorvloed.

Dit kan ook wees dat jy betrokke was by ʼn kerk, sekte of prediker wat op dieselfde wyse geestelike onwaarhede so in jou ingeplant het en jou emosioneel met manipulasie gevange gehou het, maar later het jy besef dit is nie die evangelie van Jesus nie.

Dit kan selfs in ʼn werkplek gebeur het. Werkgewers wat vreeslik godsdienstig is en onwaarhede op hul werkers afdwing. Of dalk ʼn slegte vriendskap.

Hierdie ding, hierdie wortel bly jou verhinder om vorentoe te beweeg in jou lewe. Dit keer jou geestelike groei, jou verhouding met God en jou vryheid en lewe in Jesus.
Dit is tyd om God toe te laat om van dié dooie hout en lote in jou geestelik lewe ontslae te raak.

Indien nodig, bely dit of dit wat daartoe gelei het dat dit in jou lewe ingekom het.
Gee dit vir God en aanvaar Sy vergifnis wat Hy reeds in Christus vir jou kom gee het en vra Hom om dit uit jou lewe, jou geestelike lewe en uit jou onderbewuste vergoed te verwyder.

Aanvaar en bely die waarheid elke dag in jou gebedstyd en begin leef in die vrymakende waarheid van Christus.

Dalk het God dit dalk uitgesny, maar jy aanvaar dit nie, of voel skuldig as iets gebeur of jy met sekere mense in aanraking kom, en dan vat jy weer daai dooie hout terug. Los dit finaal by God se voete soos ek hierbo geskryf het.

En dan sit jy terug en wag dat die vrug in jou lewe na vore tree. ʼn Lewe van oorvloed wat jou alles gee wat God jou in Christus kom gee het en sien Sy liefde deur jou werk en na jou kant toe kom deur jou geestelike familie om jou.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking