Donderdag 15 Januarie 2015

Die realiteit van 'n lewe van oorvloed



Gisteraand het ek in my ander blog Ek lewe geskryf oor die onderwerp die Lewe is die lewe na aanleiding van iets wat ek iemand hoor sê het. Vir baie mense is die lewe net 'n sinnelose geploeter, gejaag, resies teen die rotte en soeke na happiness.

Selfs baie "Christene" is vasgeval in die sinneloosheid van lewe wat net op die aardse gefokus is. Of in 'n regverdiging dat die daaglikse geploeter maar "swaar en moeilik" moet wees op pad na 'n euforiese hemel eendag. Dikwels vasgevang in dieselfde soeke as die wêreld.

Een van die grootste ontdekkings wat ek gemaak het, is dat alle realiteit is waargeneemde (perceived) realiteit. Realiteit is net jou ervaring en jou opgemaakte realiteit. Klink dalk óf baie ingewikkeld óf baie onwerklik vir jou. In die volgende paar blogs sal ek meer hieroor verduidelik.

Laat ek my punt staaf oor die lewe of hoe die vrou die lewe ervaar. Haar waargeneemde realiteit van die lewe is dat die lewe 'n eentonige rut race in roetine sonder happiness (hier kom 'n blog oor die wêreld se alewige gesoek na happiness ook, so hou dit ook op die ys vir eers) is.

Is dit egter wat die lewe veronderstel is om te wees? Vir baie mense, ja. Vir baie "Christene", ongelukkig ook. God se plan met die lewe was egter (in prof. Johan Heyns se woorde) gans anders. Die sondige toestand het die lewe op aarde vir altyd verander. Jesus, as die Christus, se ingryping het egter die lewe handomkeer kom omskommel.

Daarom IS 'n lewe van oorvloed op dié aarde in dié leeftyd heeltemal moontlik. Enigeen is welkom om 'n lewe van oorvloed te kies. Maar net die wat dit vra, kry dit. Tog gee God eintlik reeds in Sy ongelooflike liefde en genade dit daagliks aan elke liewe asemhalende kreatuur en ander vorm van lewe op aarde. Die mens is egter só eie geregtig dat hy dit nie wil raaksien en aangryp nie. Glo maar die lewe is net die geploeterde realiteit van sy eie waarneming.

Dié mens wat egter sy realiteit verander na dit wat in Christus is, waar Hy regeer aan die regterhand van God, sal 'n lewe van oorvloed as realiteit begin geniet!  

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking