Donderdag 22 Januarie 2015

Die sleutel tot 'n lewe van oorvloed



Een van die baie dinge wat ek van 'n lekker oefen-sessie  geniet, is die lewenslesse wat 'n mens daaruit leer. Soms is dit moeilik om die onaantasbare (intangible) met die bewuste of logies te verstaan. Oefening is 'n baie tasbare (tangible) aksie.

Jy oefen, jy word moeg, jy visualiseer, jy moet soms vasbyt en verby jou gemaksone beweeg. Terwyl jy jou doelwit in die oog hou werk jy deur die pyn om die satisfaksie  te smaak wanneer jy 'n doelwit bereik.

Maar leef nou die lewe. Dit is erg onaantasbaar. Jy kyk soms so in die berg, of is dit nou eintlik net 'n molshoop, hier voor jou vas, dat jy nie deurdruk, jou kop optel en na die doelwit kyk en al bogenoemde aksies net uitvoer nie.

Om dié rede is dit vir my lekker om dit wat ek prakties in 'n oefensessie ervaar, die tasbare (tangible), te gebruik om die onaantasbare (intangible) te probeer verklaar en te verstaan. Só staar ons, onsself dikwels vas teen die dinge in ons geloofslewe wat van kardinale belang is. Soos geloof. Of hoop. En vertroue in of afhanklikheid van God. Dié goed is, in ons menslike of vleeslike oog, onaantasbaar.

Tog leer ek dat God niks vir ons kom gee wat nie wel prakties en tasbaar is nie, soms moet ons net bietjie dieper krap en delf. Sommige dinge verg meer moeite om te verstaan en insig in te kry. As alles net maklik was, sou almal bo-op die wolke gewees het. Maar nou is almal nie kernfiskuste of wiskundiges nie. Net so is almal nie geloofshelde, groot kerkbouers of suksesvol op vele ander terreine nie. Want dit verg 'n bietjie moeite om die onaantasbare tasbaar te maak.

Só draf ek vanoggend, en dit is weer een van daai dae waar jy letterlik alles insit, ál jou kennis en ervaring, jou energie en dan net sommer hardkoppig net vorentoe beur en aanhou totdat jy die doelwit bereik, want niks wil saamwerk nie. Die bene is lam, die sy pyn, die longe brand en die sweet loop in strome teen jou af. En toe besef ek, dit is so soms om die deurbraak te maak met 'n onaantasbaarheid waarmee jy lank worstel. Maar as jy vasbyt, jou oog gefokus op die doelwit, dan word dit prakties, tasbaar en uitvoerbaar.

Ek wil bietjie skryf oor afhanklikheid van God, of anders gestel, vertroue op God. En ek gaan vannaand net inleidend hieraan raak, want hier is te veel om te sê.

Laat ek aan die een kant die negatiewe stel. Ons verstaan dit nie en daarom leef ons dit nie. Eenvoudig.
Aan die ander kant, positief, is dít die sleutel vir ons deurbraak na 'n lewe van oorvloed.
Indien jy nog nie my reeks oor Kies 'n lewe van oorvloed gehoor het en die e-boeke wat daarmee saamgaan, gelees het nie, wil ek jou uitnooi om 'n plan te maak. Of nooi my na jou groep of kerk. Want die basiese waarhede wat jy moet verstaan om 'n lewe van oorvloed te kan geniet, bespreek ek daarin. En hou vas, daar kom 'n boek waarin ek in detail aan ál die fasette van ons lewe raak.

Maar, ná al die kennis en toepassing, is vertroue op of afhanklikheid van God sekerlik die sleutel wat jy moet draai om deur daai deur te stap. Want sien, as jy nie in jou wese verstaan en besef dat dit ALLES oor God gaan en wat Hy vir ons in Christus Jesus kom gee en maak het, wie jy dus IN Christus is, en letterlik net oorgee nie, gaan jy aan die kant van die deur bly staan en die wonderlike oorvloed aan die ander kant net begeer. As jy dink die wêreld kan vervullig (en vergeet maar van die wêreld se alewige soeke na geluk - hapiness - wat nou al in die kerk ook ingesluip het), rykdom, genesing en 'n doelgerigte lewe bring, bly aan die kant van die deur. Die waarheid is dat lewe is alleen aan God se kant te vind - en daarmee saam gooi Hy sommer geluk ook by die pakkie in.

Vertroue in of afhanklikheid van God is soos 'n kind wat sonder om te skroom van 'n tafel af in sy pa se arms sal spring. Geen logiese, analitiese, kritiese, vreesagtige, verlede-verduisterde denke keer die kind nie. Die kind ken sy pa en is lief vir sy pa en weet sy pa het hom só lief hy SAL hom vang. Dis vertroue.

Net twee skrifgedeeltes en dan skryf ek 'n volgende keer verder oor hoe vertroue in of afhanklikheid van God tasbaar kan raak.

Spreuke 30:19 - Vandag onderrig ek spesifiek vir jou sodat jy op die Here kan vertrou.

Hier is drie kerngedagtes - onderrig, spesifiek en sodat. Maar volgende keer meer hieroor.

En dan, Jesus se bediening het, soos deur Matteus opgeteken, in die bergpredikasie begin met dié woorde (5:3) - “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel."

Die eerste vereiste vir 'n lewe van oorwinning is die oorgee in vertroue of afhanklikheid van God.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking