Woensdag 21 Januarie 2015

Wag is 'n werkwoord

(Met dank aan Kobus Robbertse)

Die afgelope paar weke het ek telkens geskryf oor die belangrikheid om soms te wag. Vir elke ding onder die son is daar 'n tyd sê die Prediker (3). Daar is 'n tyd om uit te gaan en te woel en werfskaf, en daar is 'n tyd om te wag. Dit is 'n seisoen-ding. Jy plant saad, wag, en maak dan die oes bymekaar. Maklik. Of is dit regtig?

Ons Westerse. Calvinistiese werketiek-geöriënteerde denke is ingestel op net een ding - om te doen. Voeg daarby die feit dat ons in ons hedendaagse. rotte resies, korporatief-beheerde samelewing totaal uit voeling is met een, onsself en twee, die omgewing of die natuur, dan is dit geen wonder die meeste mense lyk en reageer soos zombies nie. Zef noem Valiant Swart dit.

Die lewe is net een groot gejaag, 'n "doelgerigte" gerondslomp. Meestal nerens heen op pad anders as om maar net deur nóg 'n dag, nóg 'n week, nóg 'n maand en helaas, nóg 'n jaar, te kom. Om, soos 'n afgetrede polisieman eendag vir my gesê het: "My lewe het verbygevlieg. Ek weet nie waar is die 40 jaar heen nie. Dit voel soos gister wat ek en die tannie getroud is en ek as 'n jong man begin werk het." 

Kinders moet skool toe, ons moet by die werk kom, huis moet gehou word, tuin instand gehou word, seisoen in en seisoen uit. Ek weet, ek het soms met 'n skok in die middel van die winter met ontnugtering besef ek is dik en ongemaklik aangetrek of ek reën nat. Dit is eintlik alweer winter. 

Omdat ons uit voeling is met die natuur, met onsself en helaas met God, bestaan ons, maar ons leef nie. Dit is nie God se bedoeling nie. Toe Jesus gekom het en met groter krag die dood oorwin het toe Hy uit daai graf opgestaan het as wat die big bang was, het Hy kom herstel wat sonde en die duiwel gesteel het. God gee ons in Jesus 'n lewe van oorwinning. God wil hê dat jy hierdie lewe geniet. En dit is maar 'n klein deeltjie van wat in die ewigheid vir ons wag. Dié lewe is net die kleedrepetusie soos Rick Warren sê. Maar ons is nie net in hierdie een, soos sommige mense glo, om maar net swaar te kry en dit uiteintlik maar net verby te kry nie. Inteendeel. Maar ek wil nie vannaand daarby stilstaan nie.

My punt wat ek wil maak is dat ons sukkel om stil te word of meer te wag. Ons gejaagde en kitsgeöriënteerde Westerse denkpatrone jaag ons om aan die beweeg te bly en vinnige resultate te kry. Maar God het reeds in Genesis 1:8 gesê die sisteem, of beginsels eerder, waarop die aarde sal funksioneer is saai, wagtyd en oes. So, as jy op 'n plek in jou lewe is waar jy 'n deurbraak moet kry in watter deel ookal, en jy begin daaroor bid, dan is daar 'n plek en 'n tyd van wag. 

Tussen vra en ontvang, is daar wag. Tussen roeping en bediening is daar wag. Tussen doelwit en uitvoering is daar wag.

Geloofshelde dwarsdeur die Bybel moes dit leer. Elia het dit geleer, Dawid het dit hard geleer, Die dissipels het dit geleer tussen Jesus se hemelvaart en Pinksterdag. Paulus het dit geleer, om maar net 'n paar bekendes te noem.

Nou, as jy soos ek is, dan is wag moeilik. Nee dis ondraaglik. Jy sal my nie met 'n nat snoek langs die viswaters vang nie. Daai geduld het ek doodeenvoudig net nie in myself nie. Dalk sal ek eerder 'n beter jagter kan uitmaak. gee my aksie, As daar 'n probleem is, los ek dit op. As dinge in chaos is, dan skep ek orde, maak skoon en lê 'n nuwe fondasie. As iets uit niks georganiseer moet word, dan sal ek jou droom bewaarheid. Ek is resultaat geöriënteerd. Nee, nié in kompetisie nie, net in die eindproduk.

En daarom is ek nie goed met tussenin-tydperke nie. Met die wagtyd nie. Só worstel ek daarmee, want dit is waar ek nou is en waarheen en hoe nou? Hier is nie aksie op die "plek" nie, so ek is uit my gemaksone en my diepte uit. Dit is soos 'n kar wat in olie of op rollers staan en nie kan ry nie, want daar is geen wrywing tussen die wiele en die padoppervlak nie. Jy trap die petrol, maar jy spin op een spot. Dit is hoe ek voel. Ek hou nie van 'n gespinnery nie (letterlik). Ek wil die natuur sien, die wind in my hare en op my gesig voel en die speke hoor sing hier onder my.

Nou vroeër het ek al die ontdekking gemaak dat wag is eintlik nie 'n passiewe ding nie. Wag is eintlik 'n werkwoord. Dit beteken wag is eintlik reeds aksie, maar dit wou steeds nie werklik inslag vind nie. En so praat ek weer met PAPPA hieroor en sê hoe ek sukkel met die gewaggery en ek weet nie eintlik wat ek moet "doen" in die gewaggery nie. (En dan is daar natuurlik die druk van alles waaroor ons onself so maklik bekommer en dan die broeders wat regtig goed bedoel, maar nie invoeling is met dit waarmee God in jou lewe besig is nie).

En so herinner die Heilige Gees my aan Efesiërs en 'n ou boekie van Watchman Nee, Sit, Wandel, Staande bly.

Skielik kry ek 'n gloeilamp-oomblik. Wag is om te sit. En wat is sit in Efesiërs? Sit is om dit te word wat jy in Christus is. 

Hoewel ons so dikwels met groot entoesiasme die wêreld met ons boodskap kan bestorm, as jy nie weet waarvan jy praat nie, kan jy soms meer skade berokken as goed doen. Wag is nodig om gevorm te word. 

Efesiërs 2:6 - Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. (NLV). In die OV staan daar: Saam met Hom laat sit. En dan eers later in Efesiërs begin Paulus praat oor die wandel. Oor die aksie, oor die doen. Sien godsdiens sê jy moet doen om te ontvang. Maar God sê jy moet ontvang om te kan doen. Dis so eenvoudig as wat dit is. Eers as jy gesit het, kan jy wandel. Dít is hoekom God godsdiens haat. Want godsdiens gooi al God se genade, se liefde en goedheid en guns in Sy gesig terug. 

So wat is die gesittery of gewaggery nou eintlik? Dit beteken om te luister, om te leer en om ontvorm te word. Om verander te word. Om te word wat jy is in Christus. Om die volwasse man (4:12) in Christus te word. Bedieningsgewys, om gesuiwer en reggemaak te word sodat jy 'n bruikbare instrument in Sy hand kan wees. En weereens, dis nie JOU heiligheid, goedheid of vermoëns nie. Juis nie. Dit is jou omvorming en deelwording van Hom sodat jy totaal en al IN Christus kan wees. Instrument kan wees. In Hom kan beweeg, want jy is gevul met die oorwinning, met die krag van die evangelie, met God se liefde.

Daarom is wag 'n werkwoord. Dit is nie 'n breinlose, kanaal-springende, in jou niksboksie geploeter nie. Dit is 'n verandering en vernuwing van jou denke na Christus en die Koninkryk en die integrasie daarvan in jou woorde, jou denkpatrone en optrede totdat jy net kan wegspring en hardloop. Nou die dag speel ek bal met 'n Jackie (Jack Russel) op die strand wat kom vriende maak het. Wanneer sy die bal voor jou kom neersit, raak die dingetjie so opgewonde dat jy weer die bal vir haar moet gooi, dat sy sommer begin trippel met al vier haar pootjies. Dít is wat gebeur as die waarheid van God se Woord oor Sy koninkryk en wie ons IN Christus is, só deel raak van jou, dat jy op al vier silinders begin stoom opbou, reg om soos Oscar van ouds uit met spoed die blokke weg te trek. Dan gaan niemand jou keer nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking