Sondag 11 Januarie 2015

Eerste tree


Almal ken die gewilde Chinese spreuk: "Elke lang reis begin met die eerste treë." Een van ons ou Afrikaanse uitdrukkings vul daarby aan: "Eers begin, is half gewin."

In my laaste blog oor my 40 dae in die Mund het ek gereflekteer oor die tydperk in die Mund, maar ook oor wat die toekoms inhou. En inderdaad elke reis begin met 'n tree. Dalk nie 'n groot geloofsprong-tree nie, sommer net 'n ou huiwerige, onseker skuifelpassie, maar dit is 'n begin. Dit is rigting.

En so pak ek nou weer die volgende deel van my reis aan. Dinge gaan beslis nou anders wees as voordat ek hier weg is Oranjemund toe. Té veel het verander. Daar's 'n nuwe huppel in my stap. Daar's 'n nuwe vooruitsig. Nuwe doelwitte wat sal volg. Weliswaar is daar vele vooruitsigte. Baie onsekerhede tans. Baie dinge wat ek nog sit en luister.

God se opdrag aan my is om te wag, stil te word en te luister. Dit kom nou al 'n lang pad. My natuurlike reaksie van ongeduld en as 'n doener om in te klim en dinge te laat gebeur, baklei nog bietjie hiermee. Soms is ek soos 'n Petrus wat net instorm. En as dinge onseker is en niemand weet wat nou nie, die boot te vat en te gaan visvang. Totdat Jesus opdaag en Petrus weereens nie kan wag nie, maar in die water duik en na Jesus toe swem. Sy begeerte en verlange so groot om by Hom te wees.

Wag en stilword is werkwoorde. Daar is niks passief in die "aksies" nie - ja ek weet dit klink na 'n contra in terma - maar dit is presies soos God se Koninkryksbeginsels werk. Dit wat totaal teen die natuurlike is, dit is waar die deurbraak lê. So inderdaad is om stil te word en te wag, die eerste tree!
Ek weet Hy sal antwoord OP DIE REGTE TYD. En dan sal dinge gebeur. Intussen doen ek wat my hand vind,. Ek skryf. Ek sien kliënte. Ek maak preke, Ek lees en bid en luister. Ek bedien waar en soveel as ek kan kry. Ek berei myself voor vir sukses,

Hierdie blog is nou baie inleidend net oor my eie pad vorentoe en hoort eintlik in my joernaal. Sal dit dalk sommer daarin ook plaas. Ek sal volgende keer 'n behoorlike inleiding skryf vir Kies 'n lewe van oorvloed. Dit gaan groot uitgebou word. Verder beplan ek 'n paar ander blogs ook oor die kerk, verhoudings, my verskillende terapie en laastens ook sommer net 'n lekker ligte humoristiese een. En ook 'n dagstukkie blog of twee. So hou maar ál die spasies dop om te sien wat gebeur.

Die eerste treetjie is opwindend, want God is groot en aan SY liefde is daar geen einde nie. DIT is wat my, en ook vir jou, meer as 'n oorwinnaar maak.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking