Vrydag 23 Januarie 2015

Die sleutel is regte kennis



Gister het ek begin skryf oor Die sleutel tot 'n lewe van oorwinning. God het aan ons IN Christus 'n lewe van oorvloed kom gee. Die reeks gaan oor die werkwoord KIES. Dit is tot ons beskikking, maar om dit te kry en te leef moet jy vra. Wat jy vra en glo sal jy ontvang. En die sleutel daarnatoe is vertroue in of afhanklikheid van God. 

Want eers wanneer jy verby jouself beweeg, kan jy ontvang. Weens ons sondige natuur is die mens maar geneig om self-geregtig te wees, hoogmoedig en verwaand. Wanneer jy sterf in jouself en begin leef IN Christus, kry jy Sy LEWE.

Dawid het op God alleen vertrou. In alles wat hy aangepak het, was sy fokus in afhanklikheid op God. Daarom kon hy alles aanpak en rustig wees in alle omstandighede. Psalm 3:4-7 - Maar U, Here, is ’n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op. Ek het tot die Here geroep.Vanaf sy heilige berg het Hy my geantwoord. Sela. Ek het gaan lê en slaap en weer wakker geword, want die Here het oor my waggehou. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat my van alle kante bedreig nie.

Vertrou en afhanklikheid beteken dat jy jouself uit die pad uit haal en oorgee aan God. Ongeloof, twyfel en om self die oplossing te soek, gebeur wanneer ons nie dink en besef God KAN dit doen nie. Dan maak ons van God 'n afgod. 'n Klein ou afgodjie wat onsself "gekerf" het en met ons saamdra of in 'n "heilige" plek hou en godsdienstig aanbid volgens ons voorskrifte. 

Dit is baie mense se Godsbeeld. Die idee wat hulle vir hulself oor God opgemaak het en gevorm is deur die leuens van die media en Holywood, ervaringe en verkeerde prediking of dogmatiek. Nóg 'n rede hoekom baie mense 'n verkeerde Godsbeeld het, is omdat ons van nature ons beeld van God aan ons ouers koppel. Nou party mense is gelukkig en het "gesonde", gebalanseerde ouers gehad en in 'n goeie gesonde huis groot geword waar God opreg gedien is. Meerderheid mense het nie. Maar selfs die beste onder ons is sleg in vergelyking met God se goedheid en liefde. Hoewel dit help om 'n goeie Godsbeeld uit goeie ouers te ontwikkel, is dit nog steeds nié die volheid van ons God nie. 

Daarom is dit belangrik dat ons 'n beeld sal kry van wie Hy werklik is. En dan alleen sal jy werklik volkome kan oorgee. Ek het gister geskryf van die kind wat met volle vertroue in sy pa se arms val. Hy doen dit op grond van sy kennis van sy pa. Die kind wat 'n slegte beeld van sy pa het, sal dit nooit doen nie. So as jy besef maar ek kan nie so net oorgee aan God nie, dan moet jy dalk gaan kyk óf na jou totale Godsbeeld óf minstens dalk 'n aspek waarin of terrein waarmee jy sukkel.

So, hoe gee ons volkome oor?

Spreuke 30:19 - Vandag onderrig ek spesifiek vir jou sodat jy op die Here kan vertrou.

Hier is drie kerngedagtes - onderrig, spesifiek en sodat. 

Onderrig. Wanneer jy die regte kennis van God het en wie jy IN Christus is, dan is dit maklik om te vertrou. Dan is jou vertroue nie gebasseer op 'n "pie in the sky when we die"-tipe filosofie nie. Een of ander  onaantasbare, vae ding daar ver nie. Dit is egter die probleem in die kerk vandag. Dit het afgodery geword in die sin dat God nie meer geken word nie. En daarom speel die wêreld woer-woer met die kerk en maak ons af as 'n godsdiens (wat ongelukkig in baie gevalle waar is), want die kerk het haarself van alle krag ontleen. Ons lyk, praat en is net soos die wêreld. 

En hier is die grootste waarheid en wonderlike goeie nuus. God wil Hom laat ken. Dit is Sy begeerte dat ons Hom werklik volkome sal leer ken. Gaan lees maar deur ál Paulus se briewe. God kom maak Homself kenbaar aan ons in Christus Jesus en deur die Heilige Gees wat vir ons gegee is. 

Spesifiek. As enige van ons dus voel ons lei op 'n terrein in ons lewe of in ons lewe as geheel 'n nederlaag, dan is dit dalk nodig om onderrig te word oor WIE God in daai area is of in die lewe is en WAT Hy vir ons kom doen het. Dit is waarvoor die kerk veronderstel is om daar te wees. Om God te kom openbaar en te wees (lees van volgende week af my blog wat ek gaan begin waar ek oor die kerk gaan skryf). 

Sodat. Wat is die doel van die spesifieke onderrig? Dit is die antwoord op hoe gee ons volkome oor? Sodat jy kan vertrou in en afhanklik wees van God. Omgekeer sê die vers dus vir ons duidelik, as jy sukkel met vertroue en om in afhanklikheid van God te leef, is dit omdat jy 'n gebrek aan onderrig en kennis het.

Ek het gister ook geskryf dat God dit baie prakties maak vir ons. Dit lyk op die oog af wanneer ons praat van vertroue en afhanklikheid dat dit onaantasbaar (intangible) is. Maar God werk nie so nie. Alles in die geestelike dimensie van ons menswees is baie tasbaar (tangible). 

Die probleem met vertroue en afhanklikheid is dat weens ons gebrek aan (soms die regte) kennis, is dit vir ons 'n vae, swewende en onaantasbare ding.

Toe ek 'n kind was en ons ver op 'n baie warm dag gery het (onthou, dit was in die dae lank vóór karre lugversorging gehad het), het ek my altyd verstom aan die mirages of lugspieëlings op die pad. Daar doer voor lyk dit of daar water of iets anders in die pad is. Of 'n ander kar lyk of hy in 'n borrel is. Maar wanneer jy naderkom dan raak dit weg. Dan besef jy dit was nie "regtig" nie. Vir my was geloof en afhanklikheid en vertroue baie lank só 'n borrel. Iets wat onaantasbaar en onwerklik was. Net 'n lugspieëling wat jy nie werklik iets mee kan maak nie. Maar dit is juis nie die waarheid van ons God nie. Hy is baie werklik en baie magtig en Hy hou alles in Sy hand vas. Wat Hy vir ons kom gee is realiteit, werklikheid en kragtig. Daarom is dit eintlik so maklik om as Sy kind, wanneer jy Hom werklik ken, net oor te gee en in Sy arms in te val.  


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking